Die organiseerders van die twee oudste wynkompetisies in Suid Afrika het aangekondig dat beide hul wynskoue voortgaan, maar na later datums verskuif word.
Dié besluit is geneem nadat die organiseerders deeglik oor die aanbied van hul kompetisies tydens die Covid-19-inperkings besin het in oorlegpleging met Vinpro, Wines of South Africa (WoSA) en ander rolspelers in die wynbedryf. Die uitwerking van die Covid-19-pandemie en die gevolglike beperkings op talle ekonomiese en ander bedrywighede in Suid Afrika het daartoe gelei dat normale aktiwiteite gewysig en aangepas moes word om dan wel steeds binne hierdie ‘nuwe normaal’ te kan voortgaan.
Die organiseerders, die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV), is ten volle bewus van die verantwoordelikheid van die veiligheidsmaatreëls wat onder Vlak 3 met die voortsetting van dié kompetisies gepaard moet gaan. Noukeurige protokolle is reeds ontwikkel om die beoordeling van die wyne wat ingeskryf word so te hanteer dat dit voldoen aan alle gesondheids- en veiligheidsvereistes vir die beoordelaars, beamptes en personeel betrokke by die proesessies.
Die kernbesigheid van die twee skoue is om die wynbedryf die geleentheid te gee om wyne voor te lê vir beoordeling en die uitslag daarvan as maatstaf van gehalte te gebruik. Die belangrikheid hiervan vanuit ʼn bemarkingsperspektief is reeds oor dekades bewys, nie net plaaslik nie maar ook in die internasionale mark.
Verbruikers is veral op die Veritas Toekennings ingestel vir sy hoë aansien, want dit gee reeds vir 30 jaar lank leiding oor die gehalte van die Suid Afrikaanse wyne wat in die mark beskikbaar is. Dit is ook die enigste kompetisie wat deur die bedryf vir die bedryf aangebied word.
Veritas is Suid Afrika se oudste kompetisie vir wyne wat markgereed is en word sedert 1991 aangebied waartydens dit die status verwerf het as die land se mees gesaghebbende van sy soort. Deelnemers gebruik die uitslae en gepaardgaande bottelplakkers as ʼn uitnemende bemarkingsgeleentheid. Die Vertex Toekenning wat die algehele topwyn van Veritas bekroon, is in 2017 ingestel.
Die nuwe sluitingsdatum vir Veritas-inskrywings is 9 September, terwyl die beoordeling van 12 – 16 Oktober plaasvind.
Die SA Jongwynskou, wat die oudste wynskou ter wêreld is en reeds vir 188 jaar aangebied word, beoordeel die jongwyne wat in die betrokke jaar gemaak is. Dit bied sedert 1833 aan wynmakers die geleentheid om hul verskillende wyne, eksperimentele style en nuwe kultivars teen hul eweknieë in die bedryf te toets. Wynmakers is besonder opgewonde oor die wyne van 2020, wat hoë gehalte wit- en rooiwyne opgelewer het danksy besonder gunstige klimaatstoestande gedurende beide die groei- en oestye.
Die Jongwynskou bied weer eens die ideale geleentheid vir alle produsente om met hul uitsoekwyne mee te ding om een van die SA Kampioentrofeë in 17 klasse. Twee besonder gesogte trofeë is op die spel, naamlik die Generaal Smuts- en Pietman Hugo-trofeë – onderskeidelik as die kompetisie se hoogste eerbewys wat sedert 1952 toegeken word aan die algehele kampioenwyn, en erkenning vir die wynmakery met die hoogste telling vir vyf verskillende ingeskrewe wyne.
Die nuwe sluitingsdatum vir SA Jongwynskou-inskrywings is 5 Augustus, terwyl die beoordeling nou vir 31 Augustus – 4 September geskeduleer is.
Beide beoordelings word by die Nederburg Veilingkompleks in die Paarl gehou waar alle regulasies rakende veiligheids- en gesondheids-protokolle in plek sal wees, asook met genoegsame ruimte om sosiale distansiëring vir alle personeel, beoordelaars en beamptes te verseker.
Volgens die jarelange gebruik, word spesialis-beoordelaars vir alle panele aangewys om te verseker dat net die beste kundigheid vir aanwys van die wenners gebruik word.
ʼn Besluit oor dié kompetisies se toekenningsfunksies en moontlike publieke proeë sal op ʼn latere stadium geneem word.

Die 2019 SA Jongwynskou-wenners is van links, voorste ry:
Michael Langenhoven (La Motte), Wilene Bester, Mia Boonzaaier en Gerhard Swart (Flagstone), Phillip Viljoen (Bon Courage), Johan Fourie en Michelle Waldeck (Benguela Cove).
Tweede ry: Shazell van den Berg, Stian Victor, Jaco Booysen, Willie Burger, Henri Swiegers (Badsberg) en Magnus Kriel (Merwida Wynkelder).
Derde ry: Morney Very (Delaire Graff Wines), Kobus van der Merwe (KWV), Mari Branders (Diemersdal), Alecia Boshoff (Riebeek Valley Wine company) Annemarie van Niekerk (Botha Kelder) en Koos Theart (Namaqua Wines).
Agter: Christo Pienaar (Voorsitter SANWSA), Johan Dippenaar (OWK Keimoes), Johnnie Calitz (Glen Carlou) en Johan Ehlers (hoof uitvoerende beampte Agri-Expo).

Die wenners van die jaarlikse Vertex-toekenning is van links Christo Pienaar (Veritas), Megan Mullins (Domaine Des Dieux), Nuno Cadette (Berthomieu Ermitage – France), premier Alan Windeen Shane Mullins (Domaine Des Dieux).

Die SA Jongwynskou gaan vanjaar ook aanlyn aangebied word.