Veerkragtigheid kenmerk 2024-wynoes

 

Veelsydige 2024-wyndruifoes lewer goeie wyne

Die 2024-oesseisoen in Suid-Afrika was ’n reis gekenmerk deur noukeurige beplanning en aanpasbaarheid van wynprodusente te midde van uiteenlopende klimaatsprobleme en verskeie ontwrigtings.

Die 2024-oesseisoen was ’n ware toets van die Suid-Afrikaanse wynbedryf se veerkragtigheid.

Ten spyte van ’n reeks uiteenlopende en veeleisende klimaatstoestande, van ryp en swaar winterreënval tot vloede en wind, het die bedryf se aanpasbaarheid en ratsheid hierdie oes omskep in een van die merkwaardigste in onlangse geskiedenis. Met optimale rypwordingstempo, klein korrels en matige, droë toestande tydens oes, is die tafel gedek vir wyne van ongeëwenaarde uitnemendheid om die plaaslike en meer as 120 globale markte te voorsien.

Uitstekende wintertoestande in die meeste wyndruifverbouingstreke het hoë verwagtinge vir die oes gewek,” sê Dr Etienne Terblanche, Vinpro Konsultasiediensbestuurder. “Die belangrikste impak van die lentetoestande was egter die langdurige nat gronde, wat ’n direkte uitwerking op wortelstelsels en toegang tot nodige plantreserwes gehad het. Die somer was merkbaar warmer en droër as die vorige jaar, wat verder tot die kompleksiteit van hierdie oes bygedra het. Een van die uitstaande aspekte van hierdie seisoen was die uitsonderlike sanitêre toestand van die druiwe – ’n rariteit in reënerige oesseisoene.”

Die 2024 druiwe-oes het 1 099 051 ton van 87 848 hektaar opgelewer, ’n afname van 7% vanaf 2023, volgens die jongste oesskatting deur die bedryfsliggaam SAWIS (South African Wine Industry Information and Systems). Dit, gekombineer met ’n sterk markaanvraag, het daartoe gelei dat die bedryf se wynvoorraadvlakke ewewig bereik het – ’n beduidende prestasie in vergelyking met sommige van ons mededingers, wat met ’n wynoorskot worstel en drastiese maatreëls soos die uitkap van wingerd moes toepas. Terwyl die laer volumes aansienlike kostedruk vir wynprodusente impliseer, ondersteun dit ook die sektor se verbintenis om waardegroei oor markte heen te verseker.

Die 2024-wynoes – insluitend sap en konsentraat vir nie-alkoholiese doeleindes, wyn vir brandewyn, en distilleerwyn – sal na raming 857.1 miljoen liter, teen ’n herwinning van 780 liter per ton druiwe lewer.

Vroeë kultivars het in die meeste streke aansienlik ligter oesgroottes gelewer as wat verwag Die later rooi kultivars het oor die algemeen verbeterde opbrengste gelewer. Wynmakers is opgewonde oor die wyngehalte in die algemeen, veral volronde rooiwyne met besonderse kleur en tannien-ekstraksievlakke. Op die wit kultivarspektrum kan wynliefhebbers uitsien na vars wyne met uitstekende tekstuur en mondgevoel.

“Die 2023/2024-seisoen het vele struikelblokke opgelewer, maar dit het ook die veerkragtigheid en vasberadenheid van die Suid-Afrikaanse wynbedryf ten toon gestel,” sê Rico Basson, uitvoerende hoof van South Africa Wine. “Hierdie bedryf is ondernemend, met ons wynvoorraad nou in ewewig. Ten spyte van variasie in oesopbrengste en wingerdoppervlaktes, is ons voorbereid en gereed om die wêreld van uitsonderlike gehalte en wyne eie aan Suid-Afrika te voorsien.”

Suid-Afrika is die wêreld se agtste grootste wynprodusent en produseer ongeveer 4% van die wêreld se wyn. Die wynbedryf dra meer as R55 miljard tot die land se BBP by en het 269 069 mense in diens regoor die waardeketting, waarvan 80 173 op plase en kelders werk.

“Die uitstaande gehalte van die wyne van die 2024-oes bevestig Suid-Afrika se onwrikbare toewyding om wêreldklas-aanbiedinge in die kollig te plaas,” sê Siobhan Thompson, uitvoerende hoof van Wines of South Africa (WoSA).  “Hierdie prestasie versterk nie net ons vastrapplek in die wêreldmark nie, maar versterk ook ons voortdurende pogings om ’n groter waarde-aandeel van uitvoermarkte te verkry.”

“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf ondergaan ’n strategiese herposisionering, wat ons fokus na waardegroei verskuif. Deur herbelegging vir groei en samewerkende strategieë, baan ons ’n nuwe weg om ons bedryf te versterk na ’n toekoms van gehalte, innovasie en volhoubaarheid,” sluit Basson af.

Oorsig van die produksiegebiede

Breedekloof

Druifontledings van alle kultivars was optimaal. Vir die wit kultivars was dit ’n kwalitatiewe oes.

Kleurontwikkeling in rooiwyne is uitsonderlik en oor die algemeen beter teenoor koeler oesjare.

Kaapse Suidkus

Druiwe wat in 2024 geoes is, het baie gesond voorgekom weens lae reënval tydens die oes. Sapherwinnings was laer as gewoonlik, maar die uitstekende gehalte-teenbalans is beduidend.

Kaapstad

Witwyne spog met goeie geurintensiteit, en rooiwyne hou belofte in met goeie kleurontwikkeling. Die gunstige winter, voldoende en tydige reënval, en droë somertoestande het ’n uitstekende seisoen vir produsente en wynmakers daargestel.

Klein Karoo

Die 2024-seisoen sal onthou word vir ’n buitengewone hoë reënval saam met uitstekende wyngehalte. Dit beklemtoon dat die tydsberekening van reënval gedurende die seisoenbelangrik is – in hierdie geval het swaar reënval op die regte tyd die druifkwaliteit en opbrengs positief beïnvloed. Die wyngehalte van beide wit en rooi kultivars lyk uitstekend op hierdie vroeë stadium, en rooiwyne lyk belowend met intense kleurekstraksies.

Noord-Kaap

Hierdie oesjaar se wyne vertoon ’n ryper, tropiese profiel eerder as die vorige oesjaar. Wyngehalte was beter as wat verwag is, veral vir die rooi kultivars, en voller-styl wyne blyk vanjaar die neiging te wees.

Olifantsrivier

Die 2024-seisoen sal onthou word as die vloedjaar weens die uitsonderlike impak en skade van vloedwaters. Die gevolg was hoë donsskimmeldruk, maar ook innoverende denke, met produsente wat vir die eerste keer hommeltuie gebruik het vir meer effektiewe siektebeheer. Ten spyte van die aansienlike verliese weens die vloede, was opbrengste in lyn met die vorige seisoen se syfers. Wynmakers is geesdriftig oor wyne van uitstaande gehalte.

Paarl

Die 2024-seisoen sal onthou word vir die uiters nat en koue winter en lente, waartydens oorstromings plaasgevind het en infrastruktuur beskadig is. Met die koms van die somer het die weer verander na baie droë en winderige toestande, wat die oesgrootte beïnvloed het.

Januarie was baie warm, wat die oes vroeër laat plaasvind het. Weens die weerstoestande toon die streek heelwat verskille tussen plase, kultivars en opbrengste.

Robertson

Die 2024-seisoen is gekenmerk deur ongewone klimaatsuitdagings. Hoë humiditeit in die eerste helfte van die groeiseisoen het aansienlike uitdagings meegebring. Weerstoestande het vroeë kultivars se opbrengs nadelig beïnvloed, wat tot lae produksie gelei het. Ten spyte van diebeperking op tonnemaat, was die druiwe gesond, en die wyngehalte is uitstekend.

Stellenbosch

Die 2024-seisoen is gekenmerk deur aansienlike reënval aan die begin van die seisoen, maar min tot geen reën vanaf einde September tot middel Februarie nie. Saam met warm somertemperature het hierdie toestande die rypwording van vroeë kultivars versnel, wat gelei het tot ligter opbrengste vir vroeë kultivars en in sekere gevalle minder beskikbare besproeiingswater. Die droë toestande het egter druiwe van uitstekende gehalte opgelewer.

Uitstekende wyne word vir die 2024-oesjaar verwag.

Swartland

Die 2024-seisoen sal onthou word vir ’n ligter opbrengs. Gunstige wintertoestande het die weg gebaan vir ’n groter oes. Nat toestande in die lente tydens bot en baie droë, winderige en warmer somerweer het egter die finale oesgrootte beïnvloed. Die gehalte van die druiwe wasegter besonder goed en uitstekende rooiwyne word verwag.

Worcester

Wynmakers stem saam dat die meeste druiwe teen optimale rypheid met optimale suikervlakke gepars is en voller wyne geproduseer is. Wit kultivars wat het die hittegolf aan die begin van Februarie goed hanteer weens genoegsame besproeiingsreserwes.

Kleurontwikkeling oor die spektrum van rooi kultivars het verbeter. Oor die afgelope paar jaar is baie marginale rooi kultivarblokke uitgekap en nuwe wingerde geplant. Die positiewe uitwerking op die Worcester-streek se rooiwyn-uitset word nou duidelik.