Regeneratiewe landbou hier ‘n groot fokus
Vergenoegd Löw het onlangs 25 van hul bekende Indian Runner-eende aan verskeie wynplase wat in regeneratiewe landbou spesialiseer, geskenk. Hierdie plase sluit in Hartenberg, Rustenberg, Remhoogte, en Klipvlei.
Hierdie inisiatief is daarop gemik om die gebruik van natuurlike pesbeheermaatreëls in wingerde dwarsoor Suid-Afrika te bevorder. Deur hierdie eende te gebruik, kan plase hul afhanklikheid van chemiese pesdoders verminder en hul volhoubaarheidspraktyke uitbrei.
”Ons eende doen uitstekende werk en ons is verheug om te sien dat van ons hoë gehalte nie-broeiende eende na plase gaan, wat soos ons, holistiese gemengde boerdery ondersteun,“ sê Christiaan Cloete, die plaasbestuurder op Vergenoegd Löw.
”Dit is ons manier om ons liefde vir regeneratiewe boerderypraktyke uit te druk en te versprei en sodoende by te dra tot die breër gemeenskap.“
Indian Runner-eende is bekend vir hul ywerige kossoekgewoontes.”Hulle blink daarin uit om peste, slakke, insekte en doplose slakke in wingerde uit te snuffel en so te help om die wingerde te beskerm. Hulle eet ook onkruid op land en in die water. Deur wateronkruid te vreet help hulle om die vleie op die plaas skoon te hou. Hulle speel dus ‘n sentrale rol in ons geïntegreerde pesbeheerprogramme,” verduidelik Cloete.
“Die eende word twee maal per dag na die wingerde geneem en terwyl hulle daar werk, word die grond natuurlik verryk en bemes – goed vir ons wingerde en goed vir ons wyn.“
Vergenoegd Löw is een van Suid-Afrika se oudste werkende plase en dateer uit 1696. Van vergange se boerderypraktyke, tot Kaaps-Hollandse argitektuur, kooktradisies en verwelkomende gasvryheid is saamgevat in die ryke erfenis op die plaas wat volgens die span die moeite werd is om te bewaar.
Een van die meer onlangse tradisisies is die eendboerdery wat deur die vorige eienaar, John Faure, begin is. Toe hy in 1984 met die eerste groep Indiese Runner-eende op die plaas begin het, kon hy nie voorspel hoeveel besoekers van hierdie langnek, gewebde waggelaars sou hou nie. Mense kom daagliks hierheen om hulle aan die werk te sien. Vir Vergenoegd Löw is hulle ‘n kerndeel van die personeel en word hulle as die “soldate van die wingerde“ beskou.
Faure staan steeds die plaas se hoogaangeskrewe broeiprogram by en verseker dat die swerm op ‘n hoë standard bly. Broeikriteria fokus op stap- en kossoekvaardighede tesame met gesondheid en vasberadenheid. Die eende is ‘n taai spesie en is goed by plaaslike klimaatsomstandighede aangepas. Hulle hou daarvan om in die vlei te swem en te duik en kan hier hul vere regstryk en paar.
Vergenoegd Löw se beste broei-eende kompeteer jaarliks in die voorste pluimveeskoue. Dit is om te verseker dat hulle geneties en fisies hou by die streng broeistandaarde van die Indiese Runner-eende. Dit is ook ‘n goeie manier om hul eende met die kompeteerders te vergelyk.
Die plase wat van die eende ontvang het, het ook ‘n paar ganse gekry om as “polisiemanne“ op te tree en hulle te beskerm terwyl die eende in die wingerde werk.
Besoekers aan Vergenoegd Löw, geleë omtrent 40 minute se ry uit Kaapstad en digby Stellenbosch, kan elke dag om 09:00 en 12:00 die eende in aksie sien wanneer hulle oor die plaaswerf beweeg oppad na hul werk in die wingerde.