Veritas-beoordelaars reg vir wyne ondanks pandemie

Skryf nou vir Veritas 2020

Die inskrywings vir vanjaar se Veritas-toekennings is net om die draai, nadat daar vroeër aangekondig is dat die datums verskuif is weens die covid-19-pandemie.

Deelnemers aan vanjaar se kompetisie word aangemoedig om in te skryf voor die nuwe sluitingsdatum op 9 September 2020. Laat inskrywings teen ʼn verhoogde fooi sal nog aanvaar word tot 22 September. Deelnemers word herinner dat die inskrywingsfooi nie vanjaar verhoog is nie. Soos vroeër aangekondig, het die uitwerking van die covid-19-pandemie en die gevolglike beperkings op talle ekonomiese en ander bedrywighede die reëlings vir kompetisies gekompliseer en vertraag.

Die SA Nasionale Wynskou Vereniging (SANWSV) wat die organiseerders van Veritas, SA Terroir en SA Jongwynskou is, het aangekondig dat hulle die eerste is om ʼn omvattende protokollys vir beoordeling van die wyne te ontwikkel om die veiligheid en gesondheid van beoordelaars en administrateurs daagliks te verseker. Dié protokolle is reeds by die Novare SA Terroir-wyntoekennings geïmplementeer, waar die beoordelaars net die hoogste lof vir die reëlings gehad het. Dit sal hierna ook by die Jongwynskou-beoordeling einde Augustus en Veritas, middel-Oktober, gebruik word.

Die protokollys sluit volledige sanitasie van die proeperseel, -toerusting en -glase in. Die proses is die eerste van sy soort in Suid-Afrika en waarskynlik ter wêreld om 100% seker te maak dat geen virusse in die proe-omgewing teenwoordig sal wees tydens beoordeling nie. Tharo Wines stel hul volledige diens van osoon- en ultravioletstelsels beskikbaar om die persele, toerusting en bottels daagliks ten volle te reinig.

Die res van die protokollys sluit die volgende in:

  • ʼn Aanlyn vorm vir keuring (screening) wat daagliks deur alle beoordelaars, organiseerders en werkers voltooi moet word
  • Temperatuur-keuring en hand-sanitasie by aankoms
  • Verpligte gesigmaskers en die handhaaf van ʼn veilige afstand van 2 m tussen beoordelaars en persoonlike handsanitasie
  • Slegs een hanteerder van glase wat op skinkborde geplaas word, met skoon glase vir elke rondte wyne en een hanteerder van skinkborde per paneel
  • Alle glase en koffiebekers word in ʼn spesiale skottelgoedmasjien teen 80°C gewas.

Veritas is trots daarop om Suid-Afrika se oudste wynskou vir gebottelde (markklaar) wyne te wees en vir 30 jaar lank – sedert 1991 – reeds die voorste riglyn tot gehaltewyne vir die wynverbruiker, restaurante, hotelle en die wynhandel bied. Die belangrikheid hiervan vanuit ʼn bemarkingsperspektief is reeds oor dekades bewys, nie net plaaslik nie, maar ook in die internasionale mark. Daarom word wynmakers en bemarkers aangemoedig om juis vanjaar te midde van die uitdagings van Covid-19 die geleentheid aan te gryp om wyne voor te lê vir beoordeling en die uitslag daarvan as maatstaf van gehalte vir die res van die jaar aan te wend.

Veritas geniet jare lank die status as die land se mees gesaghebbende kompetisie van sy soort. Deelnemers gebruik die uitslae en gepaardgaande plakkers as ʼn uitnemende bemarkingsgeleentheid. Die jaarlikse Vertex Toekenning wat die algehele topwyn van Veritas bekroon, is in 2017 ingestel. Veritas is ook die enigste wynkompetisie wat deur die bedryf, vir die bedryf, aangebied word.

Die beoordeling word van 12 tot 16 Oktober by die Nederburg Veilingkompleks in die Paarl gehou waar genoeg ruimte is om sosiale distansiëring vir alle beoordelaars en beamptes te verseker.

Volgens die jarelange gebruik, word spesialis-beoordelaars vir alle panele aangewys om te verseker dat net die beste kundigheid vir aanwys van die wenners gebruik word.

ʼn Besluit oor die aard en datums van dié kompetisie se toekenningsfunksie en publieke proeë sal op ʼn latere stadium geneem word.

Inskrywingsvorms is aanlyn by www.veritas.co.za beskikbaar.