Rankverbod opgehef – quo vadis?
Die opheffing van die verbod op alkoholverkope is goeie nuus vir Stellenbsoch, en die res van die land, se wynbedryf, maar nou lê hef aan voor.
Dit is die mening van Mike Ratcliffe, voorsitter van die Stellenboschwynroetes (SWR) na aanleiding van pres Cyril Ramaphosa se aankondiging dat alkohol van vandag af weer onder sekere omstandighede verkoop mag word.
“Daar is geen verskoning as dit by besigheid kom nie. Covid-19 is nie ‘n verskoning nie. Dit is tyd om ons produksiekapasiteit te herbou, maar belangriker nog, om die markte te herbou en om ons verspreidingskanale en verbruikersvertroue te herwin.
“Visit Stellenbsoch en die SWR gaan binnekort ‘n hulpveldtog, #Support Stellenbosch van stapel stuur wat hoofsaaklik op plaaslike en provinsiale verbruikers gaan fokus. Dit sal ook ondersteuning vir restaurante insluit.

Mike Ratcliffe
“Tot tyd en wyl plaaslike verbuikers nie weer met vertroue ons instellings besoek nie, kan ons nie verwag dat ander mense van buite dit moet doen nie. Die planne vir die heropbou is oor die afgelope paar maande gemaak en Stellenbosch is goed geposisioneer om leiding te neem om ons uit hierdie krisis te lei,” het Ratcliffe gesê.
Volgens Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, is die opheffing van die verbod op alkoholverkope goeie nuus vir die Wes-Kaap se landbousektor en die waarde wat die wynbedryf as werkskepper en verdiener van buitelandse valuta tot die land se ekonomie toevoeg, is goed gedokumenteer.
“Ons vertrou dat die wynbedryf nou kan begin herstel en dat die regering vir die duur van die bestuur van covid-19 nie weer sal kyk na regulasies wat die potensiaal het om ‘n totale bedryf lam te lê nie,” sê hy.

Jannie Strydom van Agri Wes-Kaap
Strydom sê toerisme vorm ‘n integrale deel van die wynbedryf en is ook negatief deur die alkoholverbod en die verbod op reis oor provinsiale grense geraak. Hy sê die volgende uitdaging is om die beperking van 50 persone tot 100 te vergroot sodat ondernemings met onthaalfasiliteite ook weer volhoubaar kan sake doen.
Hy sê afgesien van die totale wynwaardeketting wat as gevolg van die alkoholverbod enorme skade gely het, is die uitlaai van die 2019 moutgars-oes uit silos as gevolg van die drankverbod nie op skedule nie en kan daar moontlik uitdagings wees om plek vir die 2020 oes te hê.
Rico Basson, bestuurshoof van Vinpro, die wynbedryfsorganisasie, meen daar lê nog ʼn lang herstelpad vir die bedryf voor.
“Hoewel ons dankbaar is dat wynhandel en aanlynverkope hervat word, is ons steeds oorweldig deur die skade wat die bedryf berokken is deur die tydelike verbod op uitvoere en verlenging van die verbod op plaaslike verkope,” sê Basson.
“Dis moontlik reeds te laat. Baie wynbesighede het reeds gesluit en ʼn lang herstelpad lê vir die bedryf as geheel voor,” sê hy.
Die bedryf het na raming meer as R7 miljard verloor sedert die aanvang van die handelsbeperkings in Maart 2020. Na die aanvanklike verbod op plaaslike verkope wat nege weke geduur het, ʼn verbod op uitvoere wat oor vyf weke gestrek het en ʼn tweede plaaslike handelsverbod, beraam Vinpro dat meer as 80 wynkelders en 350 wyndruifprodusente hul deure sal moet sluit oor die volgende 18 maande, tesame met ʼn potensiële verlies van meer as 21 000 werksgeleenthede regoor die wynwaardeketting.
Vinpro werk saam met bedryfsvennote aan ʼn dringende rampherstelplan om die sektor te stabiliseer. Dít sluit in die verlenging van aksynsverligting vir die huidige jaar en die 2021-seisoen, asook die hantering van opeenhopings en uitdagings by die Kaapstadse hawe én oplossings om die huidige wynoorskot van sowat 300 miljoen liter weg te werk.
“Die wynbedryf is gerat om plaaslike handel en verspreiding te heropen met al die nodige gesondheids- en veiligheidsregulasies in plek en daar word hard gewerk om, waar nodig, gedrag volgens verantwoordelike produksie, promosie, handel en verbruik van alkohol aan te pas,” sê Basson.

Rico Basson van Vinpro