Kollig op Bonnievale se sauvignon blanc
’n Rits medaljes, insluitend ’n prysenswaardige prestasie by die Veritas-toekennings onlangs, het opnuut weer die volgehoue gehalte van die wyne bevestig wat deur Bonnievale Wines geproduseer word.
Die jaarlikse prysuitdelingsfunksie van hierdie gesogte kompetisie is op 13 Oktober in Kaapstad gehou, waartydens die beoordelaars Bonnievale se The River Collection Sauvignon Blanc 2023 met ’n medalje in die silwer uitstaande-klas vereer het.
Hierdie sauvignon blanc het ook enkele maande gelede dubbelgoud by die Gilbert & Gaillard International Challenge verower.
Dit is beslis ’n hoogtepunt om in die Veritas-kompetisie te presteer, aangesien dit Suid-Afrika se oudste en waarskynlik die mees gesogte kompetisie vir markklaarwyne en -brandewyne is. Daarbenewens word die beoordelingstelsel ook as wêreldklas beskou.
Volgehoue uitnemendheid
Die kollig val gereeld op Bonnievale gedurende kompetisietyd – erkenning wat net weer die volgehoue uitnemendheid van hierdie kelder se wyne beklemtoon.
Bonnievale se Sauvignon Blanc 2022 was een van die FNB Sauvignon Blanc SA Top-10-wyne verlede jaar. Daarna is die Bonnievale River Collection Limited Release Cabernet Sauvignon 2021 as een van vanjaar se Top-100-wyne by die National Wine Challenge (NWC) gekies. Hierdie wyn het ook goud in die Cabernet Sauvignon Challenge verower.
Die kelder meen sy prestasie by Veritas wys net weer hoe ideaal geskik die terroir van d+ie Bonnievale- en Robertson-streek vir die produksie van veral sauvignon blanc is.
Die River Collection Sauvignon Blanc 2023 is deur die beoordelaarspaneel van Gilbert & Gaillard beskryf as ’n wyn met geure van grenadella en appelliefie, sowel as ’n tikkie lietsjie. Dit is ’n vruggedrewe wyn wat tropiese vrugte eggo, afgerond deur ’n skerp suurheid.
Volgens die beoordelaars is dit ’n wyn wat maklik drinkbaar is, maar oor ’n nasmaak met verskeie lae beskik. Dit sal nog tot drie jaar ná die oorspronklike oesjaar aanhou ontwikkel.
Aarde dra by
Verskillende grondsoorte het tot hierdie wyn se uitnemendheid bygedra. Die druiwe hiervoor is met ’n fyn hand uit twee wingerdblokke gekies – een wat deur swart alluviale of spoelgrond met ’n ligte sanderigheid gekenmerk word, terwyl die ander ook rivierrotse bevat.
Elkeen van die wingerde het ook sy eie unieke karakter – gevorm deur die wingerd se oriëntasie. Die een wingerd groei op ’n effense suidelike helling, met ’n ry-oriëntasie van noord-suid. Die ander wingerd groei op plat grond, met ’n oos-wes-oriëntasie.
Die wyn word werklik met sorg gemaak. Die fermentasieproses duur twee weke. Die wyn in die bottel is uiteindelik die samekoms van sorg en kennis wat van oesjaar na oesjaar strek – iets wat vanjaar weer deur Veritas sowel as Gilbert & Gaillard erken is.