Eat @ Perdeberg se somerspyskaart is ’n fees vir die sintuie
Effe van die hoofroete af, maar baie beslis die moeite werd. Dis Perdeberg Wines agter die Paarl, sowat 60 minute se ry van Kaapstad af. En dis nie net bekroonde wyne wat Perdeberg die moeite werd maak nie, Eat @ Perdeberg bied heilsame kos in ’n landelike omgewing wat alle hongerpyne sal stil.
Ervaar hierdie somer egte Perdebergse gasvryheid in die gemak van rustige tuine, of selfs binne-in die ontspanne, lugversorgde restaurant. Onder leiding van die sjef, Rob Hahn, het die Eat @ Perdeberg-span ’n spyskaart saamgestel wat die monde behoorlik sal laat water. Die restaurant se somerspyskaart loop oor van watertanddisse wat van plaaslike produkte en bestanddele gemaak is.
Eat @ Perdeberg is van 09:00 tot 16:00 oop van Woensdag tot Saterdag, en Sondae en openbare vakansiedae van 10:00 tot 17:00, vir ontbyt, middagete of middagtee.
Die keuses vir ontbyt sluit in ’n heilsame “plaasontbyt” of ’n halwe ontbyt vir diegene met ’n kleiner aptyt. ’n Groot gunsteling op enige spyskaart is eggs benedict en Eat @ Perdeberg spog met een vir die boeke.
Vir middagete is die keuse byna eindeloos en skop af met kleinborddisse soos bobotie-rolletjies of mosbolletjies met snoek-patee. Kleinborddisse is wêreldwyd aan’t toeneem, veral vir diegene wat wil deel of net nie baie honger is nie. ’n Ander hoogtepunt op die spyskaart is die oes-, charcuterie– en kaasborde wat genoeg is om te deel.
Wynproe kan harde werk wees, veral met sulke uitmuntende wyne, en vir die “satisfaksie-na-die-aksie”-mense is daar ’n keur van pizzas om uit te kies, of hulle kan die a la carte-spyskaart nader sleep. Los net ruimte vir nagereg want dekadente roomys met botterkaramel of gesoute karameltert wag om die ete af te rond.
Die wynmakery is bekend vir sy gesinsvriendelike atmosfeer en die restaurant se kinderspyskaart sluit hoenderrepies met aartappelskyfies, margarita-pizza en heerlike roomys met sjokoladesous in.
Moet dus nie gras onder jou voete laat groei nie, maak seker Perdeberg Wines is op die te doen-lysie hierdie somer vir puik wyn, heerlike kos en plattelandse gasvryheid.
Om te bespreek by die restaurant, skakel 021 020 1626 of stuur ’n epos aan dine@perdeberg.co.za.
Meer oor Perdeberg-wyne:
Perdeberg Wines is geleë aan die voet van die Paardeberg naby die Paarl, een van die beste wynbougebiede van die Kaap. Die eienskap wat hierdie gebied die meeste onderskei van ander is die gebruik van hoofsaaklik drooglandwingerde wat geen besproeiing ontvang nie. Hierdie wingerde moet moeilike groeitoestande oorkom en lewer gevolglik klein korreltjies met gekonsentreerde geur en kleur wat lei tot die maak van uitmuntende wyne.
Die kelder se ryk geskiedenis dateer terug tot 1941 toe ’n visionêre boer, Jan Rossouw, voorgestel het dat die streek se boere hul eie wyn begin maak. Perdeberg het sy naam te danke aan die groot getalle Kaapse bergsebras wat eens in die area gewei het en verkeerdelik aangesien is vir wilde perde deur die plaaslike inwoners.
Met wingerde van oor die 3 000 hektaar, hoofsaaklik in die Paarl- en Swartland-omgewings, het Perdeberg die voordeel van verskillende mikroklimate en ’n groot verskeidenheid grondsoorte. Die natuurlike variasie in weer, grond, dreinering en hoogte van wingerd tot wingerd stel die kelder in staat om ’n wye reeks wyne met kenmerkende gehalte en karakter te maak.
In die kelder word wyn gemaak deur die sinergie van kuns, intuïsie en wetenskap om die beste uitdrukking te gee van dit wat uit die wingerde gehaal is. Hier word ’n wynlandgoed-geïnspireerde proses gevolg, insluitende intensiewe wingerdbestuur, die pluk van druiwe met die hand in klein kratte, klein parsmasjiene en veroudering in vate om uitsonderlike gehalte te bewerkstellig.