Effe kleiner wynoes in 2023 waarskynlik

Eerste 2023-oesskatting voorspel minedr druiwe

Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente verwag ʼn goeie, maar effe kleiner 2023 wynoes na ʼn gesonde maar droë seisoen. Dít aldus die eerste van vier wynoesskattings wat jaarliks deur wingerdboukundiges en produsentekelders uitgereik word.

“Op hierdie baie vroeë stadium word die netto-afname in die skatting hoofsaaklik toegeskryf ʼn droër seisoen in al die groeistreke, behalwe vir die Noord-Kaap wat sy eie moeilike omgewingstoestande tydens en ná die oes gehad het,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se span wingerdboukundiges wat die oesskattings saam met die bedryfsliggaam, SAWIS, uitreik. “Swak blom en set in verskeie gebiede, saam met die uitkap van wingerde, het ook bygedra tot die afname in ons skatting vir die 2023-oes.”

In die Noord-Kaap, waar die seisoen gekenmerk is deur ongewoon nat en reënerige toestande, het wingerdstokke op ’n minimale reserwestatus gebot en van die begin af is minder trosse gevorm. Blare het ook swak gegroei en in sommige gevalle selfs tydelik opgehou groei.

In die res van die streke was blomtoestande goed tot uitstaande. Min siektes en plae het voorgekom, maar die algemene gemiddelde reënval was laer in die meeste streke in vergelyking met die vorige jaar, wat veral in die droëlandstreke ’n impak op korrelgroottes sal hê en gevolglik die totale wyndruifproduksie kan beïnvloed. In die intensiewe besproeiingsgebiede soos die Klein Karoo en Robertson het beurtkrag ook groot uitdagings gebied weens besproeiingskedules wat volgens die beskikbaarheid van krag moes verander.

“Die seisoen lyk belowend, maar baie kan verander voor die pars afskop,” sê Conrad.

Die volgende oesskatting deur wingerdboukundiges en produsentekelders sal in die derde week van Januarie 2023 vrygestel word.