Met vrouemaand in volle swang en die amptelike vrouedag wat pas verby is, is dit tog steeds lekker om te kyk na die belangrike krol wat vroue in ons gemeenskap vervul. En waar dan nou ‘n interessanter bydrae in ons streekse grootste bedryf, die wynbedryf. Danie Keet het ‘n paar vroue- wynmakers gaan uitvra oor hul ervarings in die oorheersende- manswêreld.
Die vroue wat saamgesels is:
Maryke Botha (MB) van Eikendal
Tania Kleintjes (TK) van Spier
Annalie van Dyk (AvD) van Hidden Valley
Clarise Langeveldt (CL) van Hazendal
Nadia Langenegger (NB) van Waterkloof en
Lizemari Geldenhuys (LG) van Kleine Zalze.
Hoe voel dit om in ‘n tradisionele manswêreld jou merk te moet maak, of voel jy die speelveld is die laaste paar jare gelyk gemaak?
MB: Dit is verseker ‘n uitdaging om as vrou in ‘n beroep en bedryf te werk wat deur mans gedomineer word. Ongelukkig word ons as vroue nog nie altyd in die beroep as wynmaker raakgesien of ernstig opgeneem nie en talle male is mense verbaas om te hoor dat jy as vrou die wynmaker is en nie een van die mans wat in jou kelder werk nie. Gelukkig is daar al ‘n hele aantal vroue wat die afgelope paar jaar wonders gedoen het vir vroue in die bedryf en ook baie goed vir hulself doen. Daar is egter nog baie wat gedoen en verander moet word vir vroue om raakgesien te word sonder dat ons voel ons moet onsself die hele tyd bewys. Dit is alles egter die moeite werd en ek sal solank dit nodig is die ekstra werk insit.
TK: Hoewel daar reeds baie werk gedoen is om dit ‘n gelyke speelgrond te maak, is daar maar steeds uitdagings en vrot appels. Ek dink die vroue voor my het betaal met hulle bloed, sweet en trane vir my om te doen wat ek vandag doen. So ook probeer ek waar ek kan ander dames te mentor wanneer die geleentheid daar is. Dit is nie alles maanskyn en rose nie, maar ek ruil hierdie bedryf vir niks.
AvD: Daar is nou al so baie vroue wynmakers dat dit nie meer iets vreemds is nie, ek voel glad nie dat ek my in ‘n manswêreld bevind nie.
CL: “Winemaking isn’t glamorous!” Ek het my huiswerk voor die tyd gedoen en geweet waarvoor ek myself inlaat. So ek ag myself gelukkig dat ek die regte keuse vir my persoonlikheid gemaak het. Ek geniet dit om hard te werk, my hande te gebruik en ‘n plan te maak. Dis heerlik, niemand kyk my snaaks aan as ek nie elke dag grimering aan het nie. Maar ek kry tog wel kans om nou en dan ‘n bietjie op te tof. Enige persoon kan vining ‘n negatiewe uitkyk op die bedryf hê indien hulle nie objektief daarna kyk nie. As jy nie bereid is om met jou hande te werk en nou en dan ‘n bietjie vuil te raak nie, is wynmaak dalk nie die regte keuse vir jou nie. So ja, ek dink die speelveld is so gelyk soos jy jouself toelaat om te glo. Op hierdie stadium voel ek gemaklik en tuis.
NL: Ek het nooit met die siening dat dit `n manswereld is die bedryf betree nie. Wynmaak is my passie – indien jy hou van wat jy doen sal jy altyd `n sukses daarvan maak. Die mans in die bedryf was nog altyd baie hulpvaardig en het my nog nooit laat voel asof ek nie in pas nie.
LG: Die laaste paar jare is daar nie meer ongelykheid tussen mans en vrouens nie. Ek het nooit bedreig gevoel nie, en kan op gelyke terme met mans my vrou staan.
Watter nuwe nuances bring jy as vrou in die wynmaakproses – dink jy vroue se vermoeëns om te proe en klein verskille in die maak van wyn is beter.
MB: Ek dink van nature het vroue ‘n sagter aanraking en dit is ook sigbaar in die wyn wat geproduseer word. Partykeer het ons net die vermoë om ‘n bietjie terug te staan en die situasie te ontleed voordat daar gereageer word. Die meeste van ons sien die kleiner detail raak en werk daaraan om dit perfek te kry.
TK: Kreatiwiteit en aandag tot fyner besonderhede. Waar mans swart en wit sien, sien vrouens 1000 skakerings van grys
AvD: Ek dink nie die feit dat ek ‘n vrou is dra by tot my wynmaakstyl nie, ek probeer slegs die beste in Hidden Valley se druiwe na vore bring. Daar is verseker parameters en werkswyses wat wynmakers se vermoëns van mekaar skei, maar ek dink nie dat geslag een van dit is nie.
CL: Ek dink nie dit wat my wyne uniek maak is toe te skryf aan die feit dat ek ‘n vrou is nie. Dit is definitief meer persoonlikheid- en passiegedrewe. En so met enige ander wynmaker, hetsy of dit ‘n man of vrou is. Om aandag te gee aan detail is vir my baie belangrik, my styl is gereserveerd, gefokus op primêre geure en uitdrukking van die terroir. Minder is meer. Ek fokus om gesonde druiwe in te bring en dan minimaal daarmee te werk, ons help dit net om tot ‘n gesonde produk te ontwikkel wat gemaak is om te verouder en lank voort te leef sodat dit geniet kan word.
NL: Daar word baie verwys na wyne as vroulik en elegant. Ek het altyd gewonder oor die idee en het al agtergekom dat baie vrouewynmakers se wyne gereeld by die beskrywing inpas. Vrouens is baie goed om gebalanseerde wyne te maak, maar eerlik het ek al baie mans se wyne geproe wat ook fantasties gebalanseerd is.
LG: Ek is ‘n kreatiewe, gedissiplineerde, hardwerkende, passievolle, afgeronde mens en kan met ‘n wye verskeidenheid mense saamwerk.
Wanneer het jy besluit dat jy wynmaker wil word – wat was daardie oomblik/gebeurtenis wat jou laat besluit het – dit wil ek doen?
MB: As ek nou terugdink daaraan was daar nie werklik ‘n ahaha-oomblik nie, maar eerder ‘n idee wat geplant is en oor tyd ontkiem en gegroei het. Ek het vroeër optometrie studeer aan die Universiteit van Johannesburg en sover ek kan onthou wou ek al in my derde jaar opskop, op Stellenbosch kom bly en ‘n wynmaker word. Dit het egter nie so vinnig en maklik gebeur nie. Ek het eers my studies daar klaar gemaak en twee jaar later by die Universiteit van Stellenbosch kom wingerd- en wynkunde studeer. Ek kyk egter nie een dag terug nie.
TK: Ek wou nog altyd ‘n wetenskaplike word. In my studies is daar groot klem gelê op chemie en ek het dit ge-love, maar dan kry jy ook kans om buite in die natuur te kom, en dan ook wyn te proe! Dit was vir my ‘n wen-wen-situasie. En dan boonop kry die wynmaker die kans om sy kreatiwiteit uit te leef in die kelder, deur nuwe versnitte, prosesse, planne en idees.
AvD: Tydens my oorsese werk en toer was ek op ‘n stadium blootgestel aan die wêreld van wyn, die chemie daaraan betrokke het my dadelik vasgevang en meer nuuskierig gemaak oor die hele proses.
CL: Ek wou oorspronklik ‘n vlieënier geword het. Maar ek het hoogtevrees… Daarna het ek ingeskryf vir natuurbewaring en op die nippertjie besluit daar is dalk nie genoeg werk in daardie rigting is nie. Ons het toe ‘n besoek aan Elsenburg afgelê en ek het was so beïndruk en ek het besluit ek wil wyn maak vir ‘n lewe. Die res is geskiedenis. Ek geniet eerlikwaar wat ek doen.
NL: Ek het altyd geweet dat ek in `n wetenskaprigting wou inbeweeg. Wynmaak het presies ingepas by wat ek wou doen en dit bring chemie, met jou hande werk en die natuur alles bymekaar Ek het op skool al geweet dat ek `n wynmaker wil word aangesien my ouers my bloot gestel het aan wynproe van `n jong ouderdom af.
LG: My belangstelling is geprikkel toe ek op skool kleinskaalse garagiste wyn gemaak het saam met my familie. Ek is tydens my grootword jare blootgestel aan wyn in die huis aangesien my pa ook destyds wingerd en wynkunde geskudeer het.

Die Eikendal-landgoed vanuit ie lug.
Vertel bietjie meer oor jou loopbaan – waar het dit begin, geswot, waar het jy al gewerk?
MB: Soos genoem het ek na skool optometrie gaan studeer aan die Universiteit van Johannesburg. Ek het my studies daar klaar gemaak en begin werk as oogkundige in Gauteng. ‘n Jaar later het ek Somerset-Wes toe verhuis en het ek gou besef die oogkunde is nie regtig vir my bedoel nie. Na nog ‘n jaar se werk as oogkundige in die Kaap is ek terug universiteit toe, dié keer in Stellenbosch om wingerd- en wynkunde te studeer. As deel van my studies moes ons ‘n ses maande internskap doen by ‘n kommersiële kelder. Dit is waar my pad by Eikendal begin het in 2016 as ‘n studente intern. Ek het na my studies teruggekeer Eikendal toe vir die 2017 pars en is kort daarna aangestel as assistant- wynmaker. Die September van 2017 was ek egter bevoorreg genoeg om in Mercurey, Burgundy te gaan pars by Vigneron Bruno Lorenzon se Domain Lorenzon. Dit was ‘n wonderlike ervaring om veral chardonnay in Burgundy te kon maak. Ek was assistant-wynmaker by Eikendal tot Julie 2019. Die tweede deel van 2019 het ek die meeste van my tyd spandeer in die Russian River Valley in die noorde van Kalifornië. Daar het ek by DuMOL Winery gewerk en verder my kennis in chardonnay uitgebrei – wat ‘n ongelooflike ervaring. Die pars van 2020 het ek egter weer by Eikendal gaan uithelp en kort daarna is ek die posisie van wynmaker aangebied, wat ek sopas gevul het.
TK: Ek het my BSc in wynkunde in 2005 voktooi. Tydens my MSc-studies het ek begin aansoek doen vir werk. Spier was my tweede onderhoud. Die eerste onderhoud was onsuksesvol omdat die keldermeester, blykbaar, volgens my bron, daardie tyd nie geglo het aan vroue in die kelder nie. Ek het by Spier begin in 2007 as assistant-rooiwynmaker. Ek was vir 5 jaar in die posisie. Tydens die tydperk het ek my MSc voltooi. Na my graduering, is ek aangestel as die kwaliteitsbeheerbestuurder. Na 4 jaar is ek weer terug kelder toe as organiese wynmaker, waar ek vandag nog die posisie beklee.
AvD: Ek het by die Universiteit van Stellenbosch geswot, en vandaar het my loopbaan by Mulderbosch begin waar ek onder Mike Dobrovic gewerk het, daarna ook saam met Richard Kershaw toe Mulderbosch na die Kanu-kelder van toe geskuif het. Na Mulderbosch het ek ‘n pars in die Napavallei in Kalifornië, gedoen en vandaar vir 2 jaar by 4G Wines gewerk, waar ek baie ondervinding in die wingerd opgedoen het. Na ‘n pars in die Loire-vallei in Frankryk het ek einde 2014 as wynmaker by Hidden Valley begin.
CL: Ek het op Elsenburg geswot, ons was die eerste jaargroep wat ‘n graad deur S.B.U. kon doen. (klas van 2006). Daarna het ek vir 2 jaar lank in verskeie lande gepars. In 2 jaar het ek 6 parsseisoene ingeryg onder meer in Nieu-Zeeland, Australië, die VSA (2 keer) en Suid-Afrika (2). In hierdie 2 jaar het ek alleen getoer en ek glo dit het my geforseer om onafhanklik te wees, hard te werk, en blootstelling te kry aan mense van allerhande kulture en agtergronde. Hierdie was ongelooflik waardevol vir my ontwikkeling en kommunikasie.
In 2008 Desember is ek aangestel in my eerste assistant-wynmaker by die Avondale-wynlandgoed. Ek het in hierdie tyd nagraads geswot by UCT se besigheidskool, ‘n nagraadse diploma in wyn- besigheidsbestuur (2010-2011)
Van 2012-2016 was ek wynmaker by Eaglevlei-wynlandgoed. Vanaf Julie 2016 is ek die keldermeester by Hazendal-wynlandgoed.
NL: Ek het aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer. My studente pars sowel as die opvolgende jaar het ek by Flagstone-wynkelder gepars en toe daarna in Australië, Frankryk en Nieu- Seeland gepars. Ek het ook `n pars by Vegelegen voltooi en het einde 2008 by die Waterkloof-span aangesluit as assistant-wynmaker en is bevorder na wynmaker in 2013.
LG: Ek het BSc wingerd- en wynkunde gestudeer by die Universiteit Stellenbosch. Ek was bevoorreg om twee keer in Kalifornië en een keer in Australië ervaring in ‘n kelder op te doen. Dit het my oë oopgemaak vir die wêreld en my beter perspektief gegee. Ek het voor Kleine Zalze by Origin Wine gewerk, wat 99% wyn uitvoer waar ek baie geleer het van uitvoere en om onder druk te kan werk.

Lizemari Geldenhuis in die kelder op Kleine Zalze.
Daar moet seker interessante/komiese interaksies tussen jou as vrou en jou manlike studentemaats/ wynmakers gewees het tydens jul studies en daarna – enigiets om te deel?
MB: Ek dink een van die mees komiese dinge wat ek al as vrou in die kelder beleef het is die uitdrukking op ‘n manlike kollega se gesig as hy besef jy kan ook ‘n vaatjie op ‘n cradle sit sonder sy hulp. Ons lyk dalk nie altyd so sterk nie, maar kan jou nogal verras.
TK: Spier is die enigste werksfamilie wat ek ken. Ons is ‘n lekker groep wat elkeen sy eie unieke persoonlikheid na die groep bring. Die beste is as ons hele wynmaakspan saam proeë doen. Hoe langer die proe, hoe meer interessant die proenotas en kommentaar. As daardie proelokaal kon praat, kon ons al ‘n boek van komiese staaltjies skryf.
CL: ‘n Vriend wat afkomstig is van Namibië het een keer in die eetsaal gesê dat dit so droog is by hulle, hulle swem maar op ‘n waslappie. Die res van die stories is nie gemaak om gepubliseer te word nie…
NL: Daar was verskeie. Die een wat ek die beste sal onthou sou die aand wees toe ons die laaste eksamen geskryf het, almal het saam gekuier en toe daarna by die universiteit se swembad ingesluip en daar gaan swem het. `n Klomp van ons het van die duikplanke af gespring en het net die 4 jaar saam afgesluit.
LG: Tydens my internasionale ervaring in Kalifornië het ek die ‘shovel award’ gewen vir die persoon wat die meeste doppe uit ‘n die rooi gistenke gespit het. Ek het gesorg dat ek in die tenke inspring voor die mans om die Suid Afrikaanse in die VSA naam hoog te hou!

Maryke Botha in die kelder van die – Eikendal-landgoed.
Wat is jou gunsteling wyn om te maak – het dit spesifieke uitdagings?
MB: Ek is mal daaroor om chardonnay te maak. Ek dink dit is ‘n wonderlike kultivar om mee te werk en met harde werk in die wingerd en min werk in die kelder kan ‘n ongelooflike wyn daaruit ontstaan. Dit verg egter baie detail en aandag, maar beloon jou aan die einde ongelooflik.
TK: Chenin blanc – dit is so verteenwoordigend van die terroir en wat gedoen word in die kelder. Daar is nie veel plek vir foute wegsteek nie.
AvD: Sauvignon blanc bly altyd ‘n uitdaging, die wyn het ‘n manier om jou op jou tone te hou, selfs na dit in die bottel is. Ek geniet egter die verskeidenheid van my beroep, die vat-verouderde rooiwyn waarmee mens uiterse geduld moet uitoefen, selfs ons rosé is vir my lekker om te maak, die opwinding van MCC, ek het nie een gunsteling nie.
CL: Ek het ‘n groot liefde vir ‘n syrah en roussanne – as mens die druiwe in die hande kan kry…
NL: Ek hou baie van syrah. Ons werk met die heel trosse (net soos wat jy dit pluk) en trap die druiwe met ons voete soos wat die gisting vorder. Dit is altyd deel van die pret van pars en ek hou ook baie van die elegansie van die variteit.
LG: MCC – Methode Cap Classique is defnitief my gunstelling om te maak. Ek geniet dit om na pars al die basiswyne te proe en versnitte op klien skaal te maak. Die uitdagende deel is tydens die maak van die gisbomme voor die bottelering van die basiswyn. Die gisbomme moet baie aandag kry en word hanteer soos my babas. Elke bottel MCC is uniek op sy eie, want die tweede fermentasie in elke bottel is anders.

Clarise Langeveldt van Hazendal saam met haar span in die kelder van dié besonderse landgoed.
Wat is vir jou die lekkerste van hierdie beroep?
MB: Een van die lekkerste dinge van hierdie beroep is om elke dag te kan werk met wat die natuur vir ons gee en om iets wonderliks daaruit te kan produseer. Daar is min dinge so lekker soos om ‘n bottel wyn saam met wonderlike mense te geniet en te kan terugdink aan wat alles in daardie bottel wyn ingegaan het. Al die mense wat hulle harte daarin gesit het om dit saam met jou te produseer, al die lewens wat aangeraak is en verhoudings wat gebou is om daardie eindproduk te bekom.
TK: Die beste, tog die mees senu-tergend, is wanneer jy jou hart en siel, tyd en liefde in ‘n wyn gesit het en jy lê dit voor vir proers en hulle love dit.
AvD: Ek geniet die interaksie met die publiek baie. Dit is lekker om uit te kyk op Hidden Valley se stoep en te sien hoe vriende saam sit en lag en kuier om ‘n bottel wyn wat ons hier gemaak het.
CL: Elke oesjaar en elke dag bring sy eie uitdagings, jy kan beplan vir alle scenarios wat jy al reeds beleef hetë maar daar duik gereeld nuwes op en dit is wat dit interessant maak. Daar is altyd ‘n nuwe plan om te maak. Gelukkig is daar altyd iemand wat jy kan bel, ‘n buurman of -vrou of vriend of vriendin wat altyd gereed sal staan om te help of raad te gee.
NL:Wanneer jy na 3 jaar se geduld en wag uiteindelik jou rooiwyn in die bottel kry is dit `n baie opwindende dag.
LG: Buiten wynmaak het ek ook interaksie met die publiek en kliënte deur proe-aanbiedings.
Dis lekker om erkenning te kry vir ‘n goeie produk. Dit maak my gelukkig om te sien hoe die verbruiker jou produk geniet.

Nadia Langenegger, wynmaker, saam met Waterkloof se eienaar, Paul-Boutinot.

Tania Kleintjes in die kelder op Spier.