Wit versnit kraai koning by SA Jongwynskou

ʼn Wit versnitwyn bekroon as SA se beste 2021-jongwyn

ʼn Gehoute wit versnit van chardonnay en colombar van Badsberg in Breedekloof naby Worcester, het die prestigeryke Genl Smuts-trofee as algehele SA Kampioen Jongwyn van 2021 gewen nadat dit ook met die trofee vir die beste Suid-Afrikaanse wit versnit by die SA Jongwynskou bekroon is.

Dit was die vierde keer dat Badsberg die formidabele Genl Smuts-trofee as algehele wenner verower, ná hulle ook hierdie prestasie met ʼn gehoute ruby cabernet in 2020 behaal het, asook met ʼn gehoute pinotage in 2016 en ʼn natuurlike soet witwyn in 2009. Daardeur sluit Badsberg aan by vier ander wynmakerye  wat die ikoniese trofee in agtereenvolgende jare verower sedert die instelling daarvan in 1952.

DF Malan het dit in 1956 en 1957 verower, Nederburg vier keer in ʼn ry van 1967 tot 1970, Faure en Faure ook vier keer agtereenvolgens van 1971 tot 1974, en Klein Constantia twee keer in 1988 en 1989.

Hierdie jaarlikse skou vir wyne van die huidige oesjaar word aangebied deur die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) in samewerking met Agri-Expo. Dit is die eerste keer in die bestaan van dié 189-jarige kompetisie, die oudste van sy soort ter wêreld, dat ʼn wit versnitwyn die top toekenning losslaan, vanjaar as die 70ste wenner van die Genl Smuts-trofee.

Die kompetisie se altesaam 19 SA kampioen-trofeë – insluitend die Pietman Hugo-trofee vir die hoogste totale punte behaal met vyf inskrywings – is Maandag (30 Augustus) aangekondig by ʼn funksie vir ʼn beperkte aantal gaste in die Johann Graue-saal by Nederburg in die Paarl. Die gebruiklike galadinee vir die oorhandiging van die trofeë is nie vanjaar aangebied nie weens die Covid-19 realiteite. Altesaam 45 wyne het klaswenner-status behaal en 73 het goue medaljes ontvang.

Die Pietman Hugo-trofee vir die wynmakery wat die meeste punte met sy vyf beste wyne behaal, is deur Spier-wyne van Stellenbosch losgeslaan.

Die totale inskrywings was aansienlik meer as verlede jaar, wat toe gedaal het weens die Covid-19 beperkinge. Die beoordelaars was dit eens dat die gehaltestandaard van die 2021-wyne uitnemend was, danksy ʼn veel later en koeler oesjaar.

Die bykans 50 beoordelaars op 13 panele het die 1 162 inskrywings volgens die streng Covid-19-protokolle wat voldoen aan wêreldstandaarde, einde Julie by Nederburg in Paarl, deeglik geproe en opgeweeg teen mekaar.

ʼn Spesiale bottelplakker is in 2013 ingestel om op die wenner van die Genl Smuts-trofee se wynbottels te pryk en sodoende die algehele beste jongwyn van die jaar in die markplek te vertoon. Dít het daartoe gelei dat meer en meer trofeewenners in die jongste jare as sodanig gebotteleer is in plaas daarvan om hul ‘identiteit te verloor’ deur verdere versnyding.

Wat die algehele uitslae betref, het Perdeberg-kKelder in die Paarl – benewens Badsberg se top prestasie – ook uitgeblink met twee nasionale wenners: Perdeberg Chenin Blanc Natuurlike Soet Witwyn en Perdeberg Malbec (ander rooiwynkultivar).

Die res van die SA Kampioene is:

Chardonnay – Nuy Wynkelder (gehout)

Chenin Blanc – Spier Wyne (gehout)

Sauvignon Blanc – Cilmor (gehout)

Sémillon – La Motte Sémillon

Ander Wit Kultivar – Ashton Wynmakery Colombar (gehout)

Edel Laatoes – Bon Courage Landgoed Edel Laatoes

Cabernet Sauvignon – Bonnievale Kelder Cabernet Sauvignon (gehout)

Merlot – Pulpit Rock Merlot (gehout)

Pinotage – Wellington Wyne Pinotage (gehout)

Rooi Versnit – KWV Shiraz/Cabernet Sauvignon/Petite Sirah/Petit Verdot/Cabernet Franc (gehout)

Shiraz – Kleine Zalze Wyne Shiraz (gehout)

Dessertwyn – Excelsior Vlakteplaas, Rooi Jerepiko

Muskadel – Montagu Wynkelder Rooi Muskadel Jerepiko

Kaapse Styl – De Krans Wyne, Enige Ander Kaapse Styl – Touriga Nacional

Die Paarl het uitgeblink met die beste vertoning as distrik met vyf nasionale trofeë, gevolg deur Breedekloof/Worcester, Klein Karoo en Robertson met drie trofeë elk, Stellenbosch met twee en Swartland met een.

Die voorsitter van die Jongwynskou, Christo Pienaar, het gesê dat die gehalte van die jongwyne in die algemeen van ʼn hoë standaard was en dat verbruikers kan uitsien na talle uitnemende wyne van die 2021-oesjaar.  “Ek is opgewonde oor die uitslae van die nasionale wenners van regoor die land se wyn-produksiegebiede, sowel as die diverse tipes van wynmakerye.  Ek wil graag almal wat deelgeneem het vir hul deurlopende ondersteuning bedank.”

OORSESE BESOEK VIR TOP VIERMANSKAP

Die twee onderskeie wenners van die Genl Smuts- en Pietman Hugo-trofee kan intussen uitsien na ʼn geborgde sesdaagse reis na Duitsland – danksy ʼn vennootskap wat in 2019 aangekondig is tussen SANWSV en Porex, ʼn prominente Paarlse voorsiener van masjinerie en wynboutoerusting aan die bedryf. Daardeur sal ʼn verteenwoordiger elk van Badsberg en Spier vanjaar onderweg wees – indien internasionale reismaatreëls dit toelaat – in die geselskap van verlede jaar se wenners, die keldermeesters van Flagstone en Badsberg, wat dit nie toe kon doen nie. Die viermanskap sal ʼn bekende gismaatskappy en filtrasie-aanleg, sowel as verskeie wynkelders en ʼn tegniese skou besoek.

BEOORDELAARS-TERUGVOERING

Die 2021-wynoes was heelwat later, maar groter ná ʼn koel, nat seisoen wat uitdagings gebied het vir goeie ekstraksie, veral vir laat kultivars – egter met talle uitnemende wyne en die belofte van ligter, meer delikate style en elegante ontwikkeling.

Die witwyne, veral droë versnitte met oordeelkundige kultivarkomposisie, het indruk gemaak. Gehoute versnitte het goeie integrasie getoon, terwyl meer vatgegiste wyne voorgekom het. Colombar het effe gesukkel as enkelkultivar, maar veral sterk vertoon in versnitte.

Gehoute wyne in die klas Ander Wit Kultivars was goed gebalanseer en die gebruik van hout was besonder goed. Die geure het gewissel van tropies tot mooi groen.

Chenin Blanc – die gemiddelde gehalte was weer baie hoog met min wyne wat geen medaljes gewen het, meestal met suiwer vrug op die neus. ʼn Handjievol het nie tipiese kultivarkarakter vertoon nie.

Sauvignon Blanc – meestal voller en met neiging na die tropiese spektrum, alhoewel daar baie goeie voorbeelde was van die meer ryper en groener geure. ʼn Handjievol het egter te hoë sure gewys.

Chardonnay – ondanks aanvanklike bedenkinge het die oesjaar baie goed uitgedraai vir Chardonnay, met minder inskrywings as voorheen. Die ongehoute Chardonnay was van top gehalte met skoon vrug, goeie balans en vars sure. In die gehoute klas was daar baie diverse style; dié wat uitgestaan het se hout en vrug het mekaar goed komplementeer.

Rooi Versnitte –  die jaar word gekenmerk deur groot diversiteit, met goeie gehalte van beide die ongehoute en gehoute versnitte.

Merlot – voller wyne met sagte tannien en minimale groenigheid het gesorg vir ʼn aantal eiesoortige wyne en bo-gemiddelde standaard. Besonderse vrug en goeie afronding in beide ongehoute en gehoute wyne. Die uitblinkers was uitstaande.

Cabernet Sauvignon – Die inskrywings het in die algemeen goeie konsentrasie en kultivarkarakter vertoon. ʼn Ligter tannien-struktuur met rooi vrug kenmerk hierdie oesjaar.

Pinotage – toon algemeen goed met suiwer vrug en goeie balans. In die ongehoute klas het baie mooi rooibessie, swartbessie en pruim op die neus beïndruk, met goeie lengte. Kompleksiteit bly ʼn uitdaging. In die gehoute klas het baie bessievrug gedomineer en goeie kompleksiteit wel voorgekom, in sommige gevalle egter met hout wat oorheers.

Shiraz – verskeie wyne was ‘stiller’ as verwag en beloof stadiger ontwikkeling met elegante evolusie. Donker kleur was opmerklik en kan dui op deeglike fenoliese rypheid weens die langer hangtyd in hierdie koel jaar –  waar oes-tydsberekening krities was vir die ideale balans en goeie potensiaal

Onder ander rooi kultivars het pinot noir uitgeblink met goeie volheid, kleur en konsentrasie vir ʼn gewoonlik skamer kultivar – wat dui op betekenisvolle vordering met elegansie, vrug en  harmonie. Dít, tesame met die nodige oordeelkundige houtgebruik.

Tempranillo – ʼn kultivar wat baie tannien gee en dit wys, maar met  konsekwentheid en goeie hantering in die kelder het talle inskrywings bogemiddelde gehalte vertoon.

Petite Sirah – vir die tweede agtereenvolgende jaar die sterkste in die skaars rooi-klas. Diep donker, intense wyne met ʼn goeie balans van beide soet vrug en speserygeure. Vol wyne met groot middel-palet wat eindig met sagte, soepel tannien. Wyne wat weens hoër ekstrak ook hout baie mooi hanteer het.

Onder die skaarser rooi kultivars het ligter wyne met laer ekstrak hul tol geëis onder die kultivars soos Cinsaut, Cabernet Franc, Touriga Nacional, Grenache, Malbec, Petit Verdot en Ruby Cabernet – in die algemeen minder opwindend, veral met houtgebruik,  en sonder groot wyne.

Port-styl en Laatoes – die gehalte hier het lanklaas beïndruk soos vanjaar. Die Port-tipe het ‘n diepte van geure en kleure getoon met vrugrypheid, intense ekstraksies en tannienstrukture.  In beide die Spesiale en Edel Laatoes het die wyne ‘n goeie balans getoon tussen die suur en suiker.

Dessertwyn – die jaar se lae suikers en reën met moeilike rypwordingstoestande, het duidelik sy tol geëis. Daar was egter wyne met ʼn ligter styl en mooi vrug wat wel uitgestaan het.

Die SA Jongwynskou is een van die oudste wynkompetisies ter wêreld, dateer terug tot 1833 en is dus nou in sy 189ste jaar. Die Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap – wat in 1996 die bemarkingsnaam Agri-Expo gevestig het – is sedert die Jongwynskou se stigting aktief as eienaar by hierdie merkwaardige kompetisie betrokke en het sy verbintenis ook as beskermheer tot vandag gehandhaaf. Terselfdertyd het Agri-Expo die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) as organiseerder met die besonder indrukwekkende versameling van goue en silwer trofeë wat jaarliks aan die wenner-wynmakers toegeken word, toevertrou.

Die SA kampioen semillon se wenner by Johan Ehlers van Agri Expo (links) en Pieter-Steph du Toit wat die trofeees oorhandig het.