Veritas-toekennings lê stewige grondslag vir US-wynkelder se pad vorentoe
Die rits toekennings wat die Welgevallen-kelder van die Universiteit Stellenbosch (US) onlangs by die 33ste Veritas-toekenningsaand verower het, is net die regte motivering vir die pad vorentoe.
Dit is volgens Riaan Wassung, wynmaker van die Welgevallen-kelder op Coetzenburg op die US se Stellenbosch-kampus.
Die kelder het met nie minder nie as 7 toekennings by die glansgeleentheid in die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum weggestap – met Die Laan Merlot (2021) en Die Laan Sauvignon Blanc (2023) wat elk dubbelgoud verower het. Die kelder het ook 3 goue toekennings, 1 silwer medalje en 1 brons medalje verower.
Volgens Wassung is dit betekenisvol dat die kelder se wyne gemeet word aan dit wat die mark daarbuite bied en dat die gehalte van die opleiding en navorsing op die gebied van wingerd- en wynkunde aan die Universiteit daardeur bevestig en ondersteun word.
Die sauvignon blanc 2023 met 93/100 punte en die merlot 2021 met 94/100 punte was van die top presteerders. Dit is die vierde dubbelgoud en tweede goue medalje wat Die Laan Merlot sedert 2017 behaal. Die dubbelgoud vir die sauvignon blanc 2023 is ‘n eerste vir die kelder en kom van druiwe op die Helshoogte pas.
Die Veritas-toekennings gee erkenning aan wyne en brandewyne van uitsonderlike gehalte en die kenmerkende Veritas-simbool van uitnemendheid dien as ‘n gesaghebbende kwaliteitsriglyn vir wyn- en brandewynkenners. Goud- en Dubbelgoud-toekennings is ook van beduidende waarde vir die wynbedryf, want dit bied ‘n gesogte beeld vir die wyn-, wynmakery en wynmaker, brandewyn- en brandewynmeesters en dra by tot groei in verkope.
Pad vorentoe
Volgens Wassung lê daar vir die kelder in vennootskap met die fakulteit agri-wetenskappe ʼn opwindende tyd voor. Van die innoverende projekte is die 16 ha nuut gevestigde kommersiële wingerde teen die hange van Stellenboschberg wat in die volgende aantal jaar in volle drag sal kom. Die wingerde is saamgestel uit gespesifiseerde kombinasies van onderstokke en klone verteenwoordigend van die klasieke kultivars waaronder cabernet, cabernet franc, shiraz, merlot en pinotage. Die wingerde is oor die afgelope drie jaar noukeurig onder die sorg van Vinpro se tegniese adviseurs gevestig.
Die voortgesette bestuur van die Welgevallen-wingerde en wynkelder word in 2024 oorgedra aan Rust en Vrede wat toetree tot ‘n langtermynvennootskap met die US. Hierdie vennootskap het ten doel om die volle potensiaal van die Welgevallende wingerde, kelder en wyne te ontsluit.
Met Die Laan-wynreeks wat voortaan in die interne verbruiksbehoeftes van universiteit sal voorsien, sal ‘n opwindende nuwe reeks wyne wat die Rust en Vrede stempel dra, binnekort onder die universiteit se handelsmerk verskyn om die verbruikersmark oor ‘n wyer front te betree.

Riaan Wassung:” Die rits toekennings wat die Welgevallen-kelder van die Universiteit Stellenbosch (US) onlangs by die 33ste Veritas-toekenningsaand verower het, is net die regte motivering vir die pad vorentoe.”
Prof Danie Brink, dekaan van die fakulteit agriWetenskappe, sê “Die uitnemende basis wat Riaan Wassung as wynmaker daargestel het, bied beide aan hom en die universiteit die ideale geleentheid om met die toetrede van Rust en Vrede, die Welgevallen-wyne tot nuwe hoogtes te voer.”
Die volgehoue erkenning wat die Welgevallen-kelder die afgelope aantal jare vir ‘n wye reeks wyne onder Wassung se hand ontvang het, is ‘n uitsonderlike prestasie.
“As kleinskaalse kelder het dit groot uitdagings aan Riaan en sy jarelange assistent, William Smith, gestel wat op hul eie na alle operasionele en administratiewe take moes omsien wat die wynmaakproses onderskraag. Riaan het ook deurentyd die betrokkenheid van gespesialiseerde kleinskaalse wynmakers vanuit die omgewings aangemoedig wat ‘n belangrike bydrae gemaak het tot innovasie en die ontwikkeling van wyne onder sy sorg.”
Volgens Brink spreek die reeks Veritas-toekennings wat die Welgevallen-kelder in eie reg vir wyne van gehalte ontvang het, ook ‘n wanindruk aan waaronder die publiek soms verkeer – dat die “universiteitskelder” eksperimentele wyne maak. “Die rol van die Welgevallen-kelder moet gesien word as die van ‘n volwaardige kelder waar ons wingerd- en wynkunde-studente direkte blootstelling kry aan die prosesse wat gepaardgaan met wynmaak op kommersiële skaal.”
‘n Gespesialiseerde eksperimentele kelder is met ondersteuning uit die wynbedryf in die JH Neethlinggebou op die sentrale deel van die kampus ingerig waar wynkunde-studente die geleentheid gebied word om op toepaslike skaal self wyne voor te berei.
“Die fakulteit is uiteraard baie opgewonde oor nuwe fase wat betree word met die optimale ontwikkeling van die wyn-waardeketting vanaf Welgevallen wat gebaseer is op vennootskappe met rolspelers uit die bedryf. Dit sal nie alleen die voortgesette ontwikkeling van ons wyne verseker nie, maar ook bydra tot verbetering van die volhoubaarheid van ons aktiwiteite asook die gehalte van ons opleiding en navorsing,” aldus Brink.