Huldeblyk aan erfenis en ’n ryk tradisie
“Lente is ’n soete herrinnering van hoe wonderlik verandering werklik kan wees.” In dieselfde gees het Perdeberg Wines die verpakking van sy gewilde Classic-wynreeks pas vernuwe om selfs meer elegant voor te kom – elegansie en gehalte teen bekostigbare pryse. Hierdie vernuwing is egter geïnspireer deur sy erfenis en die gebruik van hoofsaaklik drooglandwingerde, en weerspieël sy ryk tradisie. Geleë aan die voet van die Paardeberg naby die Paarl, is dit een van die beste wynbougebiede van die Kaap.
Hoewel die reeks se kontemporêre voorkoms behou word, sluit die veranderings ’n nuwe skroefdopkleuropsie sowel as ’n opgedateerde etiketontwerp in wat die wynmakery se erfenis inkorporeer en die indruk skep van minimalistiese warmte. Hierdie opgradering dra die reeks se droogland-eienskappe gekombineer met innoverende wynmaaktegnieke oor. Die oogmerk is om wynliefhebbers te laat voel dat hulle deel in die kelder se erfenis en tradisie elke keer as hulle ’n sluk van ’n wyn in die reeks vat.
Die enkele eienskap wat hierdie gebied die meeste onderskei van ander is die gebruik van hoofsaaklik drooglandwingerde wat geen besproeiing ontvang nie. Hierdie wingerde moet moeilike groeitoestande oorkom en lewer gevolglik klein korreltjies met gekonsentreerde geur en kleur wat lei tot die maak van uitmuntende wyne. Met wingerde van oor die 3 000 hektaar, hoofsaaklik in die Paarl- en Swartland-omgewings, het Perdeberg die voordeel van verskillende mikroklimate en ’n groot verskeidenheid grondsoorte. Die natuurlike variasie in weer, grond, dreinering en hoogte van wingerd tot wingerd stel die kelder in staat om ’n wye reeks wyne met kenmerkende gehalte en karakter te maak.
Die kelder se ryk geskiedenis dateer terug tot 1941 toe ’n visionêre boer, Jan Rossouw, voorgestel het dat die streek se boere hul eie wyn begin maak. Perdeberg het sy naam te danke aan die groot getalle Kaapse bergsebras wat eens in die area gewei het en verkeerdelik aangesien is vir wilde perde deur die plaaslike inwoners.
Die ses wyne in hierdie reeks is gemaak om elke smaak en sak te pas. Hulle is:
Met sy ligte groen skynsel bied die sauvignon blanc aromas van appelliefie, aspersie en sweempies soetrissie en groen vye in die neus. Hierdie geure word deurgedra na die mond waar die wyn op ’n verfrissende en lewendige noot eindig.
As Suid-Afrika se amptelike tuiste van chenin blanc™, stel die chenin blanc glad nie teleur nie. Hy vang die oog met sy pragtige strooikleur en terg die sintuie met geure van wit peer, koejawel en kiwivrug wat lei tot ’n verfrissende mondgevoel en ’n lewendige einde.
Met sy diep persrooi kleur lewer die volronde merlot aromas van bessies, speserye en pruime in die neus. Dit lei tot ’n fluweelsagte mondgevoel met sagte tanniene en ’n ryk, talmende einde.
Suid-Afrika se eie pinotage trek aandag met sy helder rooi kleur en stel ’n boeket van donker pruim, swartbessie en donker kersie vry. In die mond word elegante tanniene, ryp donker vrugte en donker kersies ervaar, en die wyn eindig met ’n talmende, vrugtige nasmaak.
Die cabernet sauvignon bied aromas van braambessies, bloubessies en sweempies mokka, met ’n sagte, gladde mondgevoel en ’n talmende nasmaak.
Die shiraz is fors met ’n diep pers kleur en voltooi die indrukwekkende reeks. ’n Samesmelting van donker pruime, swart bessies en swart peper word in die neus ervaar terwyl droë speserye en naeltjies dit balanseer. Die wyn lewer intense vrugte- en uitlokkende speserygeure in die mond wat aangevul word deur ’n titsel goed-geïntegreerde eikehout. Dit talm lank in die mond.
Die “nuwe” Classic-reeks van Perdeberg Wines wissel in prys van slegs R75 tot R80 per bottel.