Perdeberg se Vineyard Collection – Vir wanneer die ‘wynvoete’ jeuk!
Perdeberg Wines, wat reeds spog met ’n indrukwekkende reeks wyne, bied met sy Vineyard Collection aan die wyn-entoesias iets unieks, anders, elegant en tradisioneel, maar met ’n effense kinkel. Dis ’n wynreeks wat ’n gevoel van “op reis gaan” skep.
Die Vineyard Collection fokus op nis-kultivars en stel die entoesias in staat om die grense van die wynwêreld te verken. Dis wyne gemaak van druiwe uit spesifieke wingerde – elkeen met sy eie, unieke karakter – gemaak in ’n elegente “nuwe wêreldse” styl en nommerpas vir elke sosiale geleentheid.
Vier van die nuwe wyne in hierdie premie-reeks is die Sauvignon Blanc 2023, Chenin Blanc 2023, Pinot Noir Chardonnay 2023 en die Grenache Noir 2022.
Met die somer wat uiteindelik sy opwagting gemaak het, is dit die ideale tyd om die seisoen se aankoms te vier met die Vineyard Collection Sauvignon Blanc 2023 met sy aromas van pasgesnyde gras, aspersies en soet spanspek. Hierdie geure word in die mond voortgesit waar ’n vars en lewendige smaak ervaar word. Bedien verkil op sy eie of saam met vars somerslaaie, seekos of lig gegeurde pastadisse.
As die amptelike tuiste van chenin blanc is die Vineyard Collection Chenin Blanc 2023 beslis een om nie mis te loop nie. Hierdie wyn spog met tipiese aromas van peer, perske en tropiese vrugte. Dit is ’n vars en verfrissende wyn met sweempies sitrus en lietsji in die mond wat bydra tot sy ryk smaak. Hierdie chenin blanc is ’n puik pasmaat vir enige kerriedis, asook vir die meeste hoender- en visgeregte.
Die Vineyard Collection Pinot Noir Chardonnay 2023 is ’n versnit van 60% pinot noir en 40% chardonnay. Dit straal van elegansie en spreek boekdele vir die lang verhouding tussen hierdie twee kultivars. Dit is ’n heerlike, aromatiese wyn met ’n pragtige salmpienk kleur en stel aromas van aarbei, spookasem en framboos vry in die neus danksy die pinot noir, tewyl die chardonnay prominent is met geure van mango, pynappel en vrugteslaai. Die mondgevoel is vrugtig en lewendig met ’n heerlike suur, en kombineer ’n rits geure en sensasies wat lei tot ’n vars en lewendige nasmaak. Hierdie wyn is gemaak om regdeur die jaar geniet te word en pas uitstekend by soesji, garnaalslaai en selfs oesters. Dis ongetwyfeld ’n wyn vir alle geleenthede.

Die Pinm Noir Chardonnay pas uitstekend by soesji, garnaalslaai en selfs oesters.
Perdeberg Wines se Vineyard Collection Grenache Noir 2022 is ’n wyn wat besis nie geïgnoreer kan word nie. Dit het ’n opvallend ligter rooi kleur en bied aromas van ryp rooi bessies, kersies en speserye in die neus. In die mond is die wyn vars en lewendig met ’n gladde gevoel. Dit is perfek op sy eie, of geniet dit saam met eend, geroosterde hoender of enige geroosterde vleisgereg. Hierdie een is ’n puik toevoeging tot enige versameling.
Al hierdie wyne is beskikbaar in die wynmakery se proelokaal teen slegs R90 per bottel vir die pinot noir chardonnay, sauvignon blanc en chenin blanc en R100 per bottel vir die grenache noir.