SA gasheer vir grootste sauvignon blanc-kompetisie

Concours Mondial du Sauvignon  vir eerste keer in SA

Die groot afwagting is verby, inskrywings vir die Concours Mondial du Sauvignon is oop. Indien jy ernstig is oor sauvignon blanc, het jy nou die kans om jou wyn te meet aan sowat 1 000 ander sauvignon blanc-wyne van reg oor die wêreld. In 2023 vind hierdie kompetisie vir die eerste keer op eie bodem plaas.

Nie slegs Suid-Afrikaanse sauvignon blanc nie maar ook die land self word onder ʼn vergrootglas geplaas deur hierdie vooraanstaande kompetisie. “Deur na verskillende lande te toer, word die kollig op beide die kompetisie en medaljewennerwyne geplaas,” sê Quentin Havaux, Direkteur van Concours Mondial du Sauvignon.

“Die keuse van gasheerland vind nie lukraak plaas nie, ons as organiseerders teiken markte wat groei toon in beide produksie en die verbruik van hierdie wyn,” verduidelik Havaux. “Ná 14 jaar in Europa, was Suid-Afrika ons eerste keuse as gasheerstreek – danksy die dinamiese rol wat sauvignon blanc Suid-Afrika in die produksie van sauvignon blanc in die land speel.”

Nie slegs Suid-Afrikaanse sauvignon blanc nie, maar ook die land self word onder ʼn vergrootglas geplaas deur hierdie vooraanstaande kompetisie. “Deur na verskillende lande te toer, word die kollig op beide die kompetisie en medaljewennerwyne geplaas,” sê Quentin Havaux, Direkteur van Concours Mondial du Sauvignon.

“Meer Suid-Afrikaanse produsente moet hierdie geleentheid op eie bodem aangryp en inskryf,” sê RJ Botha, voorsitter van Sauvignon Blanc SA.

“Die Concours Mondial du Sauvignon is ‘n waardevolle en onontbeerlike hulpmiddel vir sauvignon blanc-produsente vir verskeie redes, dit bied veral groot internasionale blootstelling, dit dien as ‘n internasionale bemarkings- en verkoopsinstrument, dit onderskryf die wenwyne met ʼn seël van goedkeuring en dit is ‘n betroubare koopaanwysing vir die verbruiker.”

Goue en silwer medaljes word toegeken aan die beste mededingende inskrywings, sowel as spesiale trofeë aan inskrywings wat die hoogste tellings behaal in die kategorieë van droë ongehoute Sauvignon, droë houtverouderde sauvignon, ongehoute sauvignon-gebaseerde versnitte (ten minste 51% Sauvignon), en houtverouderde sauvignon-gebaseerde versnitte (ten minste 51% sauvignon).

Die kompetisie se proe-paneel is uitsluitlik ‘n handelspaneel wat bestaan ​​uit uitgesoekte spesialiste van regoor die wêreld, insluitende kopers, wynskrywers en spesialis-kritici. Sowat twintig nasionaliteite word in die paneel verteenwoordig en verseker sodoende die uitstaande diversiteit wat die Concours Mondial du Sauvignon onderskei van enige ander wynkompetisie regoor die wêreld.

“Benewens die gebruiklike puntestelsel uit 100 sal elke wyn vanjaar ook ‘n gehaltebeoordeling ontvang wat gebaseer is op proe-kommentaar deur ons paneel van internasionale kundiges,” sê Havaux. “Só verseker ons produsente van sauvignon blanc van groter deursigtigheid en voorsien aan hulle nuwe reklame-vaardighede om hul wyne te bemark.”

Die 2023 Concours Mondial du Sauvignon vind plaas Maandag 13 Maart tot Vrydag 17 Maart in Franschhoek. Altesaam 35 internasionale beoordelaars word vir vyf dae in Franschhoek onthaal met proe-sessies oor drie dae, asook uitstappies na sauvignon blanc-gebiede soos Durbanville en Constantia-wynvallei.

Die kompetisie word aangebied deur die kultivarvereniging Sauvignon Blanc Suid-Afrika in samewerking met nasionale, sowel as internasionale vennote. Platinumvennote is die Nasionale Konvensieburo, WESGRO, Vinventions en Concours Mondial de Bruxelles, en bronsvennote is Boutes, Tonnellerie Garonnaise, Tonnellerie Sylvain, Enartis, Beveratech, FNB, Porex en Hillebrand GORI.

“As platinumvennoot en maatskappy wat in wyn belê, stel ons ons kliënte, ons mense en ons sakevennote hoog op prys,” sê Johan Conradie van Vinventions. “Sáám wil ons ‘n storie van sukses skryf – ʼn verhaal wat ons almal regoor die wêreld bind, ‘n storie wat ons kliënte se verwagtinge inspireer én oortref. Daarom wil ons saam met Concours Mondial du Sauvignon ons verhouding met sauvignon blanc bevorder en help om ‘n verhaal te skryf waarin hierdie wyne sukses in die mark behaal.”

  • Die sperdatum vir inskrywings is Vrydag 17 Februarie 2023 en monsters moet teen Dinsdag 21 Februarie 2023 afgelewer word. Registreer nou by https://cmsauvignon.com/en/registration/. Die resultate sal op Maandag 20 Maart 2023 by Prowein in Düsseldorf, Duitsland, bekend gemaak word.

RJ Botha, Sauvignon Blanc SA Voorsitter en Kleine Zalze Keldermeester.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die beoordelaarspaneel van die 11de Concours Mondial du Sauvignon in 2020 in Blois, Touraine, in die Loire-vallei, Frankryk. Oor die afgelope 13 jaar het die kompetisie oral in Europa plaasgevind, insluitend Bordeaux, Touraine, Styria, Rueda, Friuli en Torres Vedras. In 2023 is die gasheerland vir die eerste keer in die geskiedenis van die kompetisie buite Europa, naamlik Suid-Afrika.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Met sowat 1 000 inskrywings is die Concours Mondial du Sauvignon die grootste en belangrikste internasionale kompetisie vir Sauvignon Blanc-wyne op die planeet. Meer as twintig nasionaliteite is op die proe-paneel verteenwoordig. Die Concours Mondial de Bruxelles behartig die tegniese aspekte van die proeë.