Een van die mees elegante MCCs – J C Le Roux Scintilla
J.C. Le Roux Scintilla is die vlagskip-wyn van die oudste wynplaas in Suid-Afrika wat spesifiek toegespits is op die vervaardiging van vonkelwyn, en wat bekend is vir styl, karakater en ’n Méthode Cap Classique wat met groot sorg vervaardig word.
Ter erkenning as een van die land se top produsente, is die J.C. Le Roux Scintilla Vintage Reserve 2014 met die trofee vir die beste vonkelwyn by die onlangse 2019 Old Mutual Trophy Wine Show vereer.
Dié vonkelwyn is gemaak van 70% chardonnay en 30% pinot noir-druiwe wat met die hand van twee wingerde van die hoogste gehalte gepluk word.
Die wyn word volgens die Franse tradisie vervaardig, waar ’n tweede fermentasie in die bottel plaasvind. Die bottels spandeer 36 maande op die ‘gismoer’ sodat die elegante, bekroonde borrels kan vorm.
Die pragtige, vars geure van sitrus en gebotterde roosterbrood saam met die delikate borrels, is sag en luuks.
Die MCC is met ’n lang rakleeftyd en verouderingspotensiaal in gedagte vervaardig, en sal dus grasieus in die bottel verouder.
Die J.C. Le Roux Scintilla 2014 verhandel vir ongeveer R300.