Middelvlei se boerebraai – trots Suid-Afrikaans en tog so uniek!
Middelvlei, waar die Momberg-familie reeds sedert 1919 wyn maak, lê in die hart van die Stellenbosse wynlande. Wanneer ‘n mens deur die hek van die landgoed ry, word jy begroet deur ’n asembenewende “amfiteater” van wingerde wat op die Bottelary-heuwels en die hoogste dele van die Devonvallei uitkyk.
Dis hier waar ‘n mens jou ook kan oorgee aan een van Suid-Afrika se bekendste tradisies en tydverdrywe, vleisbraai. Middelvlei se gewilde boerebraai is ’n tradisionele buitelug-ervaring waar die “inwonende” braaier die gaste se tjops, boerewors en hoendersosaties tot perfeksie braai terwyl hulle ontspan en teug aan ’n glasie of drie van Middelvlei se puik wyne. Die uitlokkende geure van die tuisgemaakte potbrood en braaibroodjies sal die monde laat water vir wat wag, terwyl Ben Momberg se tuisgemaakte patee en Ouma Annie se pampoenkoekies reeds byna legendaries geword het. Middelvlei se Boerebraai is beslis die ideale samesyn om goeie kos, goeie wyn en goeie geselskap!
Wanneer die Kaapse sonnetjie verwelkomend skyn, is die ideale plek om die Boerebraai te geniet buite op die stoep met sy pragtige uitsigte. Op die kouer dae sorg ’n knetterende kaggelvuur binne vir ekstra hitte.
Middelvlei se wynreeks, ideaal vir enige samesyn, bestaan uit ’n Cabernet Sauvignon, Chardonnay, Sauvignon Blanc, Shiraz, Merlot en Pinotage.
Teen ’n koste van slegs R225 per persoon sluit die Boerebraai ’n voorgereg en die hoofgereg in, en dis beskikbaar sewe dae per week tussen 12nm en 3nm. Eindig hierdie fees met ’n klassieke Suid-Afrikaanse nagereg, malva-poeding en roomys, wat teen ’n bykomende maar nominale bedrag beskikbaar is. ’n Vegetariese opsie met lae koolhidrate is ook beskikbaar.
Aangesien Middelvlei ’n familie-onderneming is, beywer die span hom om vir alle ouderdomsgroepe voorsiening te maak. Terwyl pa en ma dus rustig ’n glasie wyn geniet, kan die kleingoed in die sandput baljaar, die plaasdiere voer, die oop terrein met sogenaamde kickbikesgeniet of hul eie malvalekkers braai. ’n Spesiale kindermaaltyd teen R60 per kind sal sorg dat alle magies vol en die kleingoed gelukkig is.
Voorafbespreking is noodsaaklik. Om te bespreek, kontak die landgoed by 021 883 2565 ofinfo@middelvlei.co.za, of besoek www.middelvlei.co.za.