Elgin Ridge 282 Pinot Noir 2016 – perfek vir elke geleentheid

Elgin Ridge 282 Pinot Noir 2016 – perfek vir elke geleentheid

Suid-Afrika is die tuiste van net ’n handjievol gesertifiseerde biodinamiese wynprodusente en Elgin Ridge-wynlandgoed in die prentjiemooi Elgin-wynvallei, is een hiervan.

Die landgoed word besit deur Brian en Marion Smith en is bekend vir hul reeks uitmuntende wyne, waarvan die Elgin Ridge 282 Pinot Noir 2016, een is.

Dié variëteit word al hoe gewilder onder Suid-Afrikaanse wyndrinkers en het vinnig een van die gunsteling rooiwyne geword. Alhoewel pinot noir-druiwe nie goed aard in warm klimaatstoestande nie – waarvoor Suid-Afrika bekend is – is die koel Elgin-streek perfek vir dié kultivar. Die Atlantiese seebriesies verseker dat die druiwe koel gewaai word en uiteindelik gebalanseerde wyne met goeie vrug, fyn suur en mineraalagtigheid lewer.

Die feit dat die landgoed ’n gesertifiseerde biodinamiese en -organiese wynplaas is, verseker dat die wynmaakspan ’n uitstekende vrug lewer, wat die minimale inmenging in die kelder verg.

Die 282 Pinot Noir 2016 met sy briljante diep robynrooi kleur, bied framboos en donker kersievrug-geure op die neus, met blomnuanses. Op die tong verleen die suur ’n verfrissende varsheid aan die kersievrug en blomgeure. Die tekstuur is syagtig met goed geïntegreerde sappige tanniene. Pinot noir is een van die veelsydigste rooiwyne en is dus ook die perfekte kos-wyn. Die wyn is ’n pasmaat wat in koshemel gemaak is, as dit met Beef Wellington, geroosterde hoender of ’n hartlike sampioenrisotto bedien word. Dis trooskos op sy heel beste!

Die Elgin Ridge 282 Pinot Noir 2016 is direk van die plaas en ook by uitgesoekte wynwinkels landwyd teen R250 per bottel beskikbaar.