Shiraz en carcuterie-fees by Anthonij Rupert-wyne

Vier shiraz en charcuterie op Anthonij Rupert-wyne

In die Kaap se wynlande staan die tyd nooit stil nie en is daar altyd iets te doen, te ervaar en te geniet! Trek die dagboeke nader en maak ’n groot aantekening op Saterdag, 25 Mei, vir die jaarlikse shiraz en carcuterie-fees, een van die vele hoogtepunte op die jaarlikse sosiale kalender van wyn- en kosliefhebbers. Die fees, waartydens die land se beste shiraz-wyne met spesialisvleise geniet kan word, vind weer eens plaas op die Anthonij Rupert-wynlandgoed in die Franschhoek-vallei. Dit duus van 11:00 tot 16:00.

Gaste sal onder meer Anthonij Rupert Wyne se reeks shiraz-wyne – van die beperkte Anthonij Rupert Shiraz en die terroir-spesifieke Cape of Good Hope Riebeeksrivier Shiraz tot die gewilde Protea Shiraz – kan proe, asook shiraz van 18 van die land se voorste produsente, insluitende Thelema Mountain Vineyards, Leeu & Mullineux Family Wines, Waterford Estate, Stark-Condé Wines en Hartenberg Wine Estate. Hierdie hoogs aangeskrewe produsente sal hul beste shiraz-wyne op die fees tentoonstel.

Benewens die aanloklike geure van speserye en donker vrugte wat elke sintuig sal betower, sal die ervaring nuwe hoogtes bereik met ’n keur van uitmuntende plaaslike en internasionale charcuterie, van salami’s en bereide ham tot gegeurde chorizo’s. Peusel aan die happies, kies en koop dan jou gunstelinge en geniet hulle saam met die shiraz’e van jou keuse of vat hulle huistoe.

’n Heerlike Anthonij Rupert Wyne-oestafel – tot oorlopens toe gevul met vars, seisoenale slaaie; tuisgemaakte truffel-arancini; olywe, jalapenos; romerige tamatiesop en Marokkaanse lamsvleis – sal die monde behoorlik laat water en sonder twyfel die reeks wyne op die fees perfek komplementeer, terwyl die Macaroon Bar met sy keur van dekadente lekkernye sal sorg vir die ideale soet einde!

Voorafbespreking is noodsaaklik aangesien kaartjies beperk is. Die kaartjie van R295 per persoon sluit toegang en die proe van die wyne op die fees in. Bespreek direk by www.webtickets.co.za.