Opwindende Suid-Afrikaanse fotograwe stel hul werk ten toon op Quoin Rock
‘Kuns moet die versteurdes gerus stel en diegene wat gerus is, steur’
Cesar A. Cruz
Quoin Rock Wine Estate, geleë in die hart van die Stellenbosse wynlande, skud sy vere reg vir sy eerste kunsuitstalling wat van 8 Desember 2020 tot 28 Maart 2021 aangebied word.
Die uitstalling sal kontemporêre fotografie van ’n opwindende reeks kunstenaars bevat en is ’n afwyking van tradisionele uitstallings op wynlandgoedere. Kuns, intellek en passie is die perfekte beskrywing van wat op Quoin Rock geskep word en interpreteer die filosofieë van die huidige kurators, die Gaiduk-familie. Omring deur skoonheid kan besoekers die landgoed verken en hul weg baan deur die kelder waar die kunswerke ten toon gestel gaan word. Sluit die besonderse ervaring dan af in die Gåte restaurant en sy uitgebreide grasperk.
Die uitstalling, getiteld “Content”, is ’n groepuitstalling en sluit foto’s van die ontslape fotografiese meester, David Goldblatt, die gevestigde Ashley Walters en opwindende nuwe fotograwe Noncedo Gxekwa, Strauss Louw, Elsa Smit en Nina Zimolong in. Die uitstalling is onder die kuratorskap van van die gevierde fotograaf, Daniel Naudé, wat in 2006 bekend geword het vir sy treffende fotografie van diere.
Die kunstenaars het hul inspirasie uit die uitstalling se tema gekry en hul interpretasies het gelei tot ’n wandelende, kulturele reis wat deur die lense van hul kameras aangebied word. Soms is daar strak interpretasies van oomblikke in tyd, soms kaleidoskopiese warrelings van oorspronklike onderwerpe, en soms word die werklikheid dapper en onberouvol aangebied. Refleksies op die verlede. Nuwe maniere om na die toekoms te kyk. Tentatiewe afwagting van die toekoms. ’n Visuele meditasie van die wêreld rondom ons.
’n Toevoeging tot die uitstalling is die geleentheid vir besoekers om die foto’s met klank op hul selfone te besigtig wat deur die kunstenaars self geskryf is, en soms deur hulle voorgelees word. Die klankbaan is beskikbaar in Engels, Afrikaans, Xhosa, Frans en Duits. Besoekers kan die uitstalling ook ervaar deur die inligtingsplaatjies by die foto’s te lees.
Daar is geen koste betrokke by die uitstalling nie en “Content” word van Maandag tot Sondag vanaf 11:00 tot 16:00 aangebied, en van 8 Desember 2020 tot 28 Maart 2021.

Nina Z, een van die uitstallers.

Strauss Louw

Ashley Walters

Werkvan die legendariese David Goldblatt sal ook by die uitstalling te sien wees.