Wie se sauvignon blanc is die beste?

SKRYF NOU IN VIR FNB SAUVIGNON BLANC TOP 10

Inskrywings vir die 2020 FNB Sauvignon Blanc Top 10 is nou oop. Sauvignon Blanc Suid-Afrika nooi produsente van hierdie immergewilde kultivar om hul beste wyne teen Dinsdag 18 Augustus 2020 vir die kompetisie in te skryf. Laat inskrywings sal tot Vrydag 21 Augustus 2020 aanvaar word.

Sauvignon blanc-wingerde beslaan tans 9 533 hektaar in Suid-Afrika en is die topverkoper-variëteit in die land. Die voorsitter van Sauvignon Blanc SA, RJ Botha, meen dat ondanks die uitdagings van Covid-19 daar vir vanjaar se kompetisie selfs nog meer as die 183 inskrywings van verlede jaar verwag kan word.

Die Sauvignon Blanc Top 10 word in vennootskap met FNB aangebied. “Gedurende tye van groot onsekerheid en ekonomiese skokke val mense terug op handelsmerke wat hul ken en vertrou. Met die Covid-19 pandemie is dit ook geen uitsondering nie. FNB en Sauvignon Blanc is twee handelsmerke wat mense vertrou en met ‘n samewerkingsooreenkoms wat al sedert 2007 loop is ons uiters trots om geassosieer te wees met die Sauvignon Blanc Top 10-kompetisie. Volgehoue ondersteuning van die landbou en spesifiek die wynbedryf deur die hele waardeketting is van kardinale belang in hierdie tyd,” het Arno Cloete, FNB se provinsiale hoof van landbou in die Wes- en Oos-Kaap gesê.

’n Paneel vooraanstaande wynkundiges beoordeel die aanspraakmakers van Dinsdag 1 tot Donderdag 3 September 2020 by die Uitkyk-landgoed in Stellenbosch waarna 20 finaliste aangekondig sal word. Die top 10-wenners word op Woensdag 14 Oktober 2020 tydens ’n virtuele toekenningsgeleentheid bekendgemaak.

Die inskrywingsvorm vir die kompetisie is aanlyn beskikbaar by www.sauvignonblanc.com. Vir meer inligting, kontak Sauvignon Blanc SA by tel 021 976 4440 of stuur ’n e-pos na admin@sauvignonblanc.com.

Inskrywings vir die 2020 FNB Sauvignon Blanc Top 10 is nou oop. Die beoordeling vind van 1 tot 3 September plaas onder leiding van Kaapse Wynmeester Winnie Bowman.