Nuwe Vinpro-leier in Klein Karoo

KLEIN KAROO KRY NUWE VINPRO-DIREKTEUR

Jandré Human, bestuurder en wynmaker by Suid-Kaap Wingerde, is wyndruifprodusente in die Klein Karoo se nuwe stem op die Vinpro-direksie.

Sy verkiesing tot Vinpro se direksie is tydens die wynbedryfliggaam se virtuele algemene jaarvergadering op 11 November bekragtig. Hy volg Niël Joubert van die plaas Warmwater op, wat na sewe jaar op die Vinpro-direksie op rotasiebasis herverkiesbaar was, maar homself nie weer herkiesbaar gestel het as direkteur vir die streek nie.

Jandré is sedert 2013 aan die stuur van Suid-Kaap Wingerde, en was voor dit onder andere verbonde aan Overhex – waartydens hy namens die Worcester-streek op SAWIS se tegniese komitee gedien het – asook Brandvlei- en Windmeul-kelder.

“Jandré is ʼn aanwins vir die Vinpro-direksie, met goeie perspektief oor die operasionele kant van wyndruifverbouing, produksie en bemarking van die markklaar produk. Ons sien daarna uit om saam met hom te werk om die Suid-Afrikaanse wynbedryf te help herbou,” sê Vinpro se voorsitter, Anton Smuts.

Vinpro verteenwoordig nagenoeg 2 500 Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente, kelders en wynverwante besighede. Die organisasie voorsien strategiese leiding, bied gespesialiseerde dienste en beywer hom vir die ontwikkeling van mense.

Jandré Human, nuwe Vinpro-direkteur vir die Klein Karoo.