Nuy-wynkelder maak plek vir nog 3 miljoen liter wyn
Op Vrydag 10 Junie 2022 het Nuy Wynkelder (sedert 1963), naby Worcester hul nuwe, vergrote wynkelder bekend gestel – die aanbouings kan ‘n ekstra 3.2 miljoen liter wyn stoor.
“Ons is dankbaar dat ons as kelder en produsente nie stagneer nie, met die ekstra tonne druiwe vanaf nuwe aanplantings asook beter wingerd- en waterbestuur wat toegepas word, was die ektra stoorplek baie nodig,” sê Christo Pienaar, keldermeester by Nuy Wynkelder sedert 2003.
Die nuwe uitbreiding verbeter ook die kwaliteit van die wyne omdat die produk langer, teen ‘n kouer temperatuur gegis kan word – hoe kouer die wyn, hoe langer vat die gistingsproses, hoe langer die gistingsproses, hoe hoër die kwaliteit van die produk.
Nuy gaan groen
Tydens die aanbouings kon nuwe groen tegnologie geïmplimenteer word om ‘n kleiner koolstofvoetspoor te verseker. Die sonkragpanele is verdubbel, dus wek die kelder baie van sy eie elektrisiteit op. Die nuwe verkoelingsstelsel gebruik ook minder elektrisiteit.

Nuy Wynkelder se Christo Pienaar, keldermeester, en Charl Rabie (oud-voorsitter) tydens die opening.

Charl Rabie knip die lint om die nuwe kelder amptelik te open.