Perdeberg se Dry Land Collection – staan sterk teen die elemente
Moeder Natuur werk dalk nie altyd so sagkens nie, maar dit is dikwels onder moeiliker toestande wat die mooiste vrugte geskep word. Perdeberg se bekroonde Dry Land Collection - ’n reeks ultra-premium wyne – is die perfekte voorbeeld van hoe hierdie waarheid vergestalt word.
Die versameling vertoon wyne se uniekheid wat in hierdie terroir deur eeue-oue tradisies te gebruik, verbou word. Die wyne word van wingerde gemaak wat min tot geen besproeiing ontvang nie en wat bekend staan as droëland-wingerde.
“Ons wil wyne skep wat getrou is aan hierdie omgewing,” verduidelik Albertus Louw, Perdeberg se keldermeester. “Ons wil die wyn toelaat om uitdrukking te gee aan die plek waar dit vandaan kom.”
Die Dry Land Collection, ’n voortsetting van dié Paarl-kelder se 80-jarige geskiedenis van voortreflike wynmaak, kies druiwe uit ouer wingerde en bosstokke, wat destyds in die beste grond geplant is, waar dit volhoubaar oorleef met die seisoenale reënval as hoofwaterbron.
“Ons probeer dinge so natuurlik moontlik doen, met die minste inmenging,” verduidelik Louw. Die diversiteit in die weer, grond, dreinering en hoogte bo seespieël tussen die onderskeie wingerde, stel Perdeberg in staat om ’n wye reeks wyne met duidelike eienskaps- en karakterverskille te produseer.
Sonder besproeiing weeg droëlandgewasse minder, trosse én korrels is kleiner en moet met die hand gepluk word. Daar is egter ’n soete beloning vir dié wat hierdie moeilike toestande verduur.
“Die meeste geur sit net onder die vel, so met minder sap en meer vel, kry jy hoër geurkonsentrasie,” sê Louw. Intensiewe wingerdbestuur, wat onder meer die gebruik van dekgewasse vir waterterughouding en natuurlike plaagbeheer (met geen chemiese plaagdoders) insluit, beskerm die wingerdstok en verseker dat die ekostelsel in balans is – en die wyn is die held.
Die Dry Land Collection is aanloklik vir entoesiaste wat natuurlike wynmaakprosesse verstaan en waardeer, en wat dit sal geniet om hierdie uitdrukkings met ander by elegante aandetes en spesiale geleenthede te deel. Die versameling spog met goed gebalanseerde wyne met kompleksiteit en konsentrasie, maar is ook baie aangenaam om te drink. Waarde is ook ’n oorweging, sê Louw. “Ons wil regtig probeer om vir hierdie prys, meer kwaliteit te lewer as wat verwag word.”
Elke wyn in die reeks het ’n simboliese naam wat ’n kenmerk van sy oorsprong deel. Die etikette van die Courageous Old Vine Barrel Fermented Chenin, Resolve Pinotage, Tenacious Shiraz, Conqueror Cabernet Sauvignon en Longevity Natural Sweet Chenin is almal getuienis van die wingerde se uithouvermoë.
Om hulde te bring aan die meesters wat tot Perdeberg se wynmaakgeskiedenis bygedra het, word die versameling voltooi deur Roussouw’s Heritage-witversnit, vernoem na Jan Roussouw, Perdeberg-kelder se stigter en Joseph’s Legacy rooiversnit, na Joseph Huskisson, Perdeberg se eerste voltydse wynmaker, wat in die vyftigerjare baanbrekerswerk vir nuwe SA wynmaaktegnologieë gedoen het.
Die Courageous OLD VINE Barrel Fermented Chenin Blanc 2021 vertoon aromas van sitrus, peer, perske en pynappel. Op die tong is daar skeutjies sitrus, lietsjie en vanielje, met ‘n vars einde wat ’n goed-gedefinieërde suur vertoon. Dis perfek op sy eie of saam met seekos-disse, geurige kerrie en ryk kase.
Dit is algemeen bekend dat pinotage-wingerde floreer onder droëland-toestande en die Resolve Pinotage 2019 is geen uitsondering nie. Trouens, dit is die perfekte voorbeeld van wat ‘n pinotage moet wees. Die donker kleur, duidelike geure en sappige struktuur van hierdie wyn, is ‘n bewys van hierdie tradisionele druiweboerdery-metodes. Die wyn is heerlik saam met ‘n geskroeide tuna-steak, lam tikka masala of geglasuurde varkribbetjie.
Die Tenacious Shiraz 2018 is ’n moderne shiraz en ’n goeie voorbeeld van wyn wat onder droëland-toestande gemaak word. Wanneer klein bessies gebruik word, is daar ’n volronde neus met ’n ryk nasmaak en hierdie wyn is die perfekte voorbeeld daarvan. Die neus is speseryagtig met skeutjies witpeper, naeltjies, vars tabak en viooltjies. Op die tong is daar sweempies moerbeie, kersies en fynbos, met ’n breë struktuur, ’n delikate tanniene en ’n vars nasmaak. Die uitmuntende wyn is ook heerlik saam met ‘n geskroeide tuna-steak, lam tikka masala of geglasuurde varkribbetjie.
Die Conqueror Cabernet Sauvignon 2019 is ‘n ware weerspieëling van ‘n moderne cabernet sauvignon, wat tipiese kultivar-eienskappe met geparfumeerde aromas toon. Op die neus kry jy sweempies pruimedant, braambessie, bloubessie en vanielje, terwyl die smaak gestruktureer is met sagte tanniene, met ’n talmende nasmaak. Dis op sy beste op koue wintersaande voor die kaggel of saam met vriende, terwyl julle aan geurige beesstert-kasserol, volstruis-biefstuk of beeskorma smul.
Die Longevity Natural Sweet Chenin Blanc 2018 is ’n uitstekende voorbeeld van chenin blanc se diversiteit. Met sy aantreklike diep goue kleur, aanloklike aromas en lewendige mondgevoel, is hierdie wyn gemaak om al die sintuie te behaag. Geniet saam met nagereg of bedien met taai soet koeksisters, verouderde kase of enige ander soet lekkernye.
Die Roussouw’s Heritage 2019 wit versnit weerspieël die krag wat in diversiteit wat opstaan om iets moois te skep, lê. Geurige sitrus, grenadella, lietsjie en witpeer is duidelik op die neus. Die smaak is ryk aan vanielje en eindig met ‘n kraakvars suur, wat dit die ideale pasmaat maak vir geroosterde lynvis, pasta of hoender.
Die Joseph’s Legacy 2019rooi versnit voltooi die reeks. Die wyn lewer prominente swartpeper-, seder-, biltongspesery-, kersie-, pruim- en vanieljegeure op die neus. Op die tong is dit goed gestruktureer met volronde gelaagde kleure van naeltjies, speserye, koljander en sjokoladeversiersel. Met verloop van tyd sal die kompleksiteit toeneem en daar word verwag dat aromas meer speseryagtig en leeragtig met sweempies sigaarrook sal word. Hierdie wyn is die ideale pasmaat vir vlamgeroosterde kruisskyf, speseryagtige wildsvleis en beesvleis-kasserol of gebraaide skilpadjies.
Die Dry Land Collection word in ’n nuwe-wêreld-styl gemaak en kos tussen R135 en R165 per bottel. Dis direk van die plaas of van die meeste gespesialiseerde wynwinkels landswyd beskikbaar.