SA Terroir Wyntoekennings 2022
Tulbagh skitter onder voorste Kaapse wynterreine
Die mees uitnemende wynterrein by vanjaar se 17de jaarlikse SA Terroir-wyntoekennings was Tulbagh, ‘n klein distrik wat nie in wyke verdeel is nie.
Hierdie kompetisie het weer eens getoon hoe vele kelders uit verskeie terreine top gehalte wyne in harmonie met die natuur oplewer.
Die Tulbagh-prestasie is gekenmerk deur Saronsberg-kelder se nasionale wenners vir grenache, mourvédre, shiraz en viognier terwyl hulle ook vier ander wyne ingeskryf het wat almal areawenners is.
Dit het grootliks bygedra dat die trofee vir SA Terroir top area vanjaar aan die Tulbagh-terrein toegeken is. Boonop is die trofee vir die SA Terroir top produsent aan Saronsberg-kelder toegeken op grond van die meeste inskrywings van goeie gehalte.
Nog drie kelders spog met meer as een nasionale wenwyn en/of trofee by vanjaar se SA Terroir-wyntoekennings. Een van hulle het ook gesorg vir die algehele top wyn uit al die inskrywings, naamlik die Flagstone Treaty Tree Sauvignon Blanc/Sémillon 2019 versnit wat die trofee vir die SA Terroir top wyn ontvang het. Die ander nasionale wenner van hierdie kelder in Somerset-Wes was hul 2020 Free Run Reserve Sauvignon Blanc.
Rietvallei in Robertson het gesorg vir die nasionale wenners van cabernet franc en cinsaut, en het ook vir die tweede jaar agtereenvolgens die Trofee vir SA Terroir top landgoed ontvang. Stettyn in Villiersdorp het die nasionale wenners van port-styl wyn en erfeniswingerd-wyn opgelewer.
Slegs wyne wat gesertifiseer is as enkelwingerdwyn, landgoed-geproduseerde wyn, en wyn uit ‘n wyk of ‘n distrik wat nie in meer as een wyk verdeel is nie, word beoordeel.
‘n Enkelwingerdwyn is die versinnebeelding van ‘n spesifieke wynterrein en vanjaar is 53 sodanige wyne vir die kompetisie ingeskryf. Die uiters gesogte trofee vir die SA Terroir top enkelwingerdwyn is toegeken aan Benguela Cove-landgoed in Hermanus se Benguela Cove Catalina Sémillon 2019. Uit al die enkelwingerdwyne wat saam met al die ander inskrywings beoordeel is, is vyf aangewys as nasionale wenners (ongeveer 16%) en 33 as area-wenners (ongeveer 60%).
Die SA Terroir-kompetisie het sy ontstaan te danke aan die hoog aangeskrewe wyn van oorsprong-stelsel wat 50 jaar gelede ingestel is kragtens die wet op wyn, ander gegiste dranke en spiritus. Dit het op 1 September 1973 in werking getree en is sedertdien verskeie kere gewysig. Dit word wêreldwyd as een van die heel beste stelsels beskou om die integriteit van wyn in die bottel en aansprake wat op die etiket verskyn, te bevestig.
SA Terroir-wyntoekennings gee gesaghebbende erkenning aan kelders wat hul spesifieke grond en klimaat, dus terroir, met ‘n passie uitleef. Finansiële vennote is gevestigde organisasies in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, tesame met ‘n nuwe ‘bonus mediavennoot’. WinField United South Africa, SA Litho en Ontbytsake van DSTV se kykNET-kanaal ondersteun vanjaar die SA Terroir-wyntoekennings finansieel.
Die nasionale wenners van al die kultivars en wynstyle wat vanjaar ingeskryf is, het weer eens van regoor die Kaapse wynland gekom. Altesaam 32 nasionale wenners is vanjaar vereer. Die uitgesoekte paneel beoordelaars was Jeff Grier (voorsitter), eienaar-keldermeester van Villiera-wyne en Kaapse wynmeester, Elunda Basson, keldermeester van Steenberg, Brendan Butler, wynmaker en bestuurder van Meinert-wyne en Kaapse wynmeester, Samarie Smith, wynskrywer en wynspesialis, en Anton Swarts, senior wynmaker en wynaankoopbestuurder by Spier en Kaapse wynmeester.
Benewens die trofeë en nasionale wenwyne, word die top wyne in die verskillende gebiede ook aangewys.



Die SA Terroir-trofeewenners en finansiële vennote: Bennie Howard (ondervoorsitter SANWSA), Johann Fourie (Benguela Cove-wynlandgoed SA top trofee vir enkelwingerdwyn, Benguela Cove Catalina Sémillon 2019), Louis Mclaren (uitvoerende vervaardiger, Ontbytsake), Dewaldt Heyns (Saronsberg), Christo Pienaar (voorsitter SANWSA), Eldert Burger (Rietvallei-wynlandgoed), Dawrian Salies (algemene bestuurder: SA Litho), Gerhardt Swart (Flagstone-wynkelder) en Niel Kruger (bemarkingsdirekteur, Winfield United SA).





