Uitnemende Veritas-resultate sluit uitdagende wynjaar op hoë noot af
Die Veritas-toekennings se resultate wat vandag gepaard met spontane applous bekendgemaak is, het die gees van wynmakers, wingerdboukundiges, bemarkers en ander rolspelers in die bedryf in ʼn besonder moeilike jaar weerspieël – wat ʼn nuwe gevoel van opwinding en geloof in die toekoms van bekroonde wyne oorgedra het.
Die resultate is by ʼn informele middagete in die Paarl aangekondig, in plaas van die gebruiklike jaarlikse galadinee, waar drie wynmakerye elk drie dubbelgoud medaljes ingepalm het, terwyl sewe uitgeblink het met twee elk.
Terselfdertyd het ʼn rekord aantal van 36 wynmakerye elk een dubbelgoud en verskeie goue medaljes tussen 70 dubbelgoud en 128 goud ontvang. Altesaam vier dubbelgoud en 15 goud is toegeken aan die top gefortifiseerde wyne en die land se voorste brandewynkelders het sewe dubbelgoud en vier goud losgeslaan.
Die Vertex-toekenning vir die algehele kampioenwyn uit bykans 1 300 inskrywings vir Veritas vanjaar, is deur KWV The Mentors Orchestra 2018 (ʼn Bordeaux-styl versnit) ingepalm – wat die hoogtepunt van verrigtinge by die afgeskaalde toekenningsfunksie onder streng Covid-19 protokolle by Val de Vie Landgoed se Polo-klub in die Paarl op Saterdag 14 November.
Die handgemaakte glas-trofee is aan KWV senior wynmaker Izelle van Blerk oorhandig. Dit is die eerste keer dat ʼn rooiwyn vir hierdie top trofee sorg sedert die instelling daarvan in 2017.
Die Veritas Vertex-toekenning ontleen sy naam aan die Latynse term vertex, wat “hoogste punt” beteken en dit versinnebeeld die Veritas Toekennings se doelwit om die heel beste wyn uit al die medaljewenners te bekroon.
Deel van die opwinding tydens die Veritas-toekenningsfunksie vandag het ook daarin gelê dat die nuwe, spesiaal ontwikkelde VinoVeritas deur CTP Toep (App) geaktiveer is – wat die gesogte wyne en brandewyne wat Veritas goud en dubbelgoud gewen het nou dadelik beskikbaar stel vir maklike, aanlyn bestelling en aflewering op kopers se drumpel. Hierdie is ʼn eerste vir wynkompetisies in Suid-Afrika deur Veritas, Suid-Afrika se oudste en mees gesaghebbende kompetisie vir markklaar wyne en brandewyne.
ʼn Voornemende koper kan dus van vandag af eenvoudig die toepassing aflaai, registreer en bestellings plaas. Dít te danke aan baanbreker samewerking tussen die organiseerders, die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) en CTP Packaging, Getwine en Cognition FoneWorx.
“Hierdie is ʼn trotse oomblik in die 30-jaar lange geskiedenis van Veritas dat ons so ʼn unieke toepassing van stapel kan stuur, wat beide die Suid-Afrikaanse wynbedryf en die verbruiker sal baat,” het SANWSV-voorsitter Christo Pienaar gesê.
Dit, het hy beklemtoon, volg op Veritas se prestasie deur ʼn wêreldklas sanitasiestelsel by wynbeoordeling (in samewerking met Tharo Wine) te implementeer deur die gebruik van gevorderde ultra-violet en osoon lug-en-oppervlak sanitasie-tegnieke – benewens omvattende, spesiaal geformuleerde protokolle om die veiligste omgewing moontlik vir die beoordelaars en personeel betrokke te verseker.
KWV was een van drie wynmakerye wat uitgeblink het met drie dubbelgoud elk – saam met Spier en Nederburg. Hierdie groot ster van die dag het egter meer goud gekry en met altesaam 10 goue medaljes gespog. Spier het drie dubbelgoud en sewe goud ontvang, met Nederburg drie dubbelgoud en drie goud.
Vyf wynmakerye het twee dubbelgoud ingepalm benewens een goud, naamlik Anthonij Rupert Wines, Babylonstoren, Badsberg Wynkelder, Darling Kelders en De Wetshof Wynlandgoed. Twee wynmakerye het twee dubbelgoud elk ontvang, Diemersdal-wWynlandgoed en Windmeul-kelder.
In die klas vir gesertifiseerde erfenis-wingerdwyne, het die 2019 Koelenhof Stellenbosch 1679 Enkelwingerd Bosstok-wingerd Chenin Blanc die eerste dubbelgoud-toekenning losgeslaan sedert die instelling van hierdie nuwe klas verlede jaar vir wingerde ouer as 35 jaar.
Onder gefortifiseerde wyne, het Nuy-wynkelder uitgeblink met twee dubbelgoud en twee goud. Aan de Doorns-wynkelder was in die tweede plek met een dubbelgoud en een goud, terwyl Delaire Graff-wynlandgoed hier een dubbelgoud ontvang het.
Distell het in die brandewyn-kategorie die botoon gevoer met vyf dubbelgoud en twee goud. KWV was tweede met twee dubbelgoud.
Die beste presteerder in die klas vir tien wyne of minder, was Flagstone-wynkelder, terwyl KWV die beste presteerder in die klas vir tien wyne of meer was.
Wyntoekennings
KWV het die toon aangegee met drie dubbelgoud (benewens 10 goud) – vir Laborie Brut Cap Classique NV, KWV The Mentors Orchestra (Weskaap) 2018 en KWV Abraham Perold Tributum 2010.
Spier het drie dubbelgoud ontvang, vir Spier 21 Gables Chenin Blanc 2019, Spier 21 Gables Chenin Blanc 2014 en Spier Creative Block 5 Merlot/Cabernet Sauvignon/Cabernet Franc/Malbec/Petit Verdot 2010.
Nederburg-kelders het uitgeblink met drie dubbelgoud vir Nederburg The Anchorman Philippus Wolvaart Chenin Blanc 2018; Nederburg The Manor House Cabernet Sauvignon 2015 en Nederburg The Motorcycle Marvel Günter Brözel 2013.
Gefortifiseerde wyn
Altesaam vier dubbelgoud en 15 goud is toegeken aan die top gefortifiseerde wyne. Nuy-wynkelder het twee dubbelgoud gewen vir Nuy Wit Muscadel 2015 en Nuy Wit Muskadel 2006, met Aan de Doorns wat dubbelgoud gewen het vir hul Muscadel Sweet Red Dessert Wine 2017 en Delaire Graff ʼn dubbelgoud vir hul Cape Vintage Port Style Touriga Naçional/Tinta Barocca 2018.
Brandewynmeesters
Suid-Afrika se toonaangewende brandewynprodusente het sewe dubbelgoud en vier goud verower. Distell het uitgetroon met vyf dubbelgoud vir sy Richelieu International Premium Brandy, Viceroy 5 Years Potstill Brandy, Van Ryn’s 10 Years Single Potstill Brandy, Van Ryn’s Single Potstill Brandy 12 Years en Van Ryn’s Single Potstill Brandy 20 Years, sowel as vier goud.
KWV het twee dubbelgoud vir sy KWV 10 Years Potstill Brandy en KWV 15 Years Alambic Blend Potstill Brandy ontvang.
Medalje-oorsig
Die Veritas-toekennings het vanjaar byna 1 300 inskrywings ontvang.
ʼn Gesaghebbende beoordelaarspaneel van 64 plaaslike spesialiste, het die kandidate vir Veritas-roem gefynkam gedurende ʼn marathon vyf-dag blinde proe-sessie. Die afgeskaalde panele het uit drie lede elk bestaan, om sodoende te voldoen aan die streng Covid-19 protokolle wat in plek was tydens die beoordeling. Weens reisbeperkings met die pandemie, het geen internasionale beoordelaars vanjaar deelgeneem nie.
Die sewe mees mededingende kategorieë volgens die aantal inskrywings ontvang was: rooi versnitte 181, sauvignon blanc 149, cabernet sauvignon 123, shiraz 113, chenin blanc 102, chardonnay 102 en pinotage 70. Altesaam 20 brandewyne is ingeskryf in drie kategorieë: standaard, potketel en oesjaar.
In totaal is 1 092 medaljes toegeken – 70 dubbelgoud, 128 goud, 185 uitnemende silwer, 506 silwer en 203 brons.
Die beste presteerders met dubbelgoud-medaljes vir Wyn was chenin blanc 9, sauvignon blanc 8, chardonnay 6, cabernet sauvignon 5, pinotage en Cap Classique, met 4 medaljes elk, wit versnitte, ander rooi versnitte, museum rooiwyn met 3 medaljes elk; en merlot, Kaapse versnit en shiraz 2 elk.
ʼn Dubbelgoud elk is toegeken vir enige ander kultivar (Bukettraube), Bordeaux-versnit, gesertifiseerde erfenis- wingerdwyne, museum-witwyn, edellaatoes, Rhône-versnit, sémillon en strooiwyn.
Dubbelgoud vir gefortifiseerde wyn met 1 medalje elk was rooi muskadel, wit muskadel, Cape Port Style Vintage en museum dessertwyn.
Potketel-brandewyn het uitgeblink met 6 dubbelgoud en standaard brandewyn 1.
Onder goue medaljes het chenin blanc voorgeloop met 10, gevolg deur Cap Classique, sauvignon blanc en shiraz 9 medaljes elk, dan cabernet sauvignon, pinotage, ander rooiversnitte en witversnitte met 7 medaljes elk, Kaapse Versnit, Cape Port Style Ruby/Tawny/Vintage/Ander en chardonnay 6 medaljes, cabernet franc, edellaatoes, pinot noir, Rhône-versnit, ander rooi kultivars, museum-rooiwyn, potketelbrandewyn en rooi muskadel 3 medaljes elk, malbec, merlot, museum Cap Classique, museum-witwyn, strooiwyn, wit muskadel, museum dessertwyn 2 elk. Een medalje elk het gegaan vir gesertifiseerde erfenis-wingerdwyne, museum Cape Port Style Vintage, Bordeaux-versnit, standaard brandewyn, viognier, weisser riesling en dessertwyn.
Die volle beoordelingsproses is deur LDP geoudit.
Publieke wynproeë en legendes
Weens die beperkings op samekomste sal geen landwye proeë vanjaar aangebied word nie en die tradisie om rolspelers as wynbedryf-legendes te vereer, word ook tot volgende jaar uitgestel.

Wallies Uys van Richelieu-brandewyn en Christo Pienaar.

De Wet Viljoen van Neethlingshof en Christo Pienaar, SANWSA-voorsitter.

Christo Pienaar, Veritas-voorsitter en Izéle van Blerk van KWV.