Franschhoek skud vere reg vir jaarlikse Bastille-fees op 13 en 14 Julie
Een van die hoogtepunte op die jaarlikse feeskalender van die Kaapse wynlande, die Bastille-fees, keer oor die naweek van 13 en 14 Julie terug na Franschhoek. Hierdie gewilde fees met sy Franse karakter sal weer eens by die geskiedkundige Hugenote Monument plaasvind.
Die gewilde dorp sal weer eens getooi wees in sy beste Franse “kleredrag” en sy Franse erfenis met oorgawe omhels. Die Bastille-fees het reeds bekend geword vir sy heerlike samesyn om kos en wyn en vanjaar sal geen uitsondering wees nie.
Hoewel die Franschhoek-wynvallei die Franse tema tot perfeksie uitleef, sal die kos-en-wyn-markiestent, met die Hugenote Monument as agtergrond, weer die plek wees waarom alles draai. Met die koue winter wat die Kaap dan reeds in sy kloue het, sal die markiestent die ideale plek wees om van die winterweer te ontsnap.
Daar sal weer genoeg parkering wees binne stapafstand van sowel die markiestent as die dorp. In die markiestent kan gaste die uiteenlopende wyne van die streek geniet, asook die heerlike disse uit die kombuise van sommige van die vallei se bekende eetplekke.
Die kunstenaar wat ’n ieder en ’n elk se Bastille-ervaring vaslê, die gewilde Porcupine Ridge-vatrolkompetisie en lewende musiek sal bydra tot die feesvieringe. Besoekers word uitgenooi om deel te wees van die “baret en baguette”-brigade en ekstra kleur aan die fees te verleen.
Kaartjies vir die kos-en-wyn-markiestent kos R395 per persoon en sluit toegang, ’n komplimentêre proeglas, wynproekoepons en ’n koepon van R20 in wat op die dag verhandel kan word.
Bykomende proekoepons kan op die fees gekoop word. Aangesien kaartjies beperk is, word voorafbespreking deur www.webtickets.co.za sterk aanbeveel. Kinders onder 18 kry gratis toegang.
Die Bastille-fees is van 11vm tot 5nm oop die Saterdag en van 11vm tot 3nm die Sondag. Die Sondag se aktiwiteite is grootliks op gesinne gemik en daar sal dus heelwat vermaak vir die kleingoed wees.