Jazz en fondue op Delheim – die winter se beste Sondag-wegbreek

Delheim se gewilde Jazz & Kaasfondues smelt alle weerstand

Elke Sondag vanaf 23 Junie tot 25 Augustus

 Daar is darem maar niks wat die hart so verwarm soos ’n bietjie jazz nie. Kom kry jou jaarlikse dosis by Delheim- wynlandgoed se gewilde jazz en Kaasfondues wat elke Sondag, vanaf 23 Junie tot 25 Augustus, aangebied word.

 As jy jazz-mal is, is hierdie geleentheid net vir jou. Die jazz- en kaasfondues word in Delheim se knus en intieme ‘Downstairs’ wynkelder – wat net so gesellig soos die beste jazzklub is – gehou.

 Die bonus by hierdie intieme middagete is dat die kaas-simfonie en wyn van die bekroonde Stellenbosch-wynkelder saam met ’n musikale program van die Cape Town Music Academy NPC en Jazz in the Native Yards aangebied word.

 Vir die spys-gedeelte van die geleentheid, gee jou kaartjie jou toegang tot ’n stomende pot gesmelte kaas, met vars brood en groente om daarin te doop. Jy kan opsionele ekstras soos voorgeregte, vleis, nagereg en koffie ook bestel en natuurlik is die wyne per glas of per bottel te koop.

 Hierdie is ’n spesiale kans om Delheim se cabernet sauvignon 2016 te proe – ’n wyn wat nie alleen eksklusief by die landgoed beskikbaar is nie, maar ook die perfekte pasmaat vir kaas is.

 As jy self knus toegedraai is teen die winterkoue, sal hierdie wonderlike middag op sy beste geniet word in die geselskap van goeie vriende.

 “Die Cape Town Music Academy is trots om weer met Delheim en Jazz in the Native Yards hande te vat, om ’n opwindende verskeidenheid nuwe en talentvolle jazz-kunstenaars na die wynlande te bring,” sê Vicky Davis, Cape Town Music Academy se programbestuurder. “Die jazz- en kaasfondue-reeks is ’n wonderlike inisiatief wat nie alleen aan ons jazz-musikante die geleentheid bied om op te tree nie, maar ook plaaslike- en oorsese gaste blootstel aan die genot van ons wonderlike plaaslike musiektalent.”

 Jazz in the Native Yards is ’n rondreisende lewendige jazz-groep wat jazz-vertonings en luisteraarskap regoor die Wes-Kaap in informele woongebiede, by kultuurfeeste en -sentrums bevorder.

 Die volronde klanke van jazz-reuse soos Winston Mankunku Ngozi, Robbie Jansen en Chris McGregor sal deur ’n wye spektrum jazz-musikante laat herleef word. In die mengsel sal gunstelinge soos “pata pata” van Sima Mashazi, wat saam met Schalk Joubert die gehore laat duisel het by die onlangse US Woordfees op Stellenbosch, wees.

Ook op die program is Thembelihle Dunjana, ’n jong jazz-pianis van Gugulethu, wat op 11-jarige ouderdom begin klavier speel het. Haar passie vir jazz het ontwikkel gedurende haar hoërskooljare by Bergvliet Hoër en sy het uiteindelik by die UCT College of Music beland, waar sy haar B. Music-graad voltooi het.

 Thembelihle het gevind dat die klanke van Mccoy Tyner, John Coltrane en Bheki Mseleku haar hartsnare roer en sy word sterk beïnvloed deur hierdie legendes se klanke én die orkes, wat ’n gemaklike swing-gevoel het, én ’n sterk Afrika-invloed.

Die program vir die 2019 Delheim Jazz & Kaasfondue-reeks is as volg:

The Unity Band                                                                                               23 Junie

Darren English Trio (trompet)                                                                     30 Junie

Mike Rossi Quartet (saksofoon)                                                                    7 Julie

Thembelihle Dunjana Quartet (klavier)                                                      14 Julie

Tumi Pheto Quintet (trompet)                                                                      21 Julie

Buddy Wells Quartet (saksofoon)                                                                 28 Julie

John Hassan (perkussie)                                                                                4 Augustus

Ramon Alexander                                                                                           11 Augustus

Schalk Joubert                                                                                                18 Augustus en,

Bongani Sotshononda en Babalwa Meintjies (stem en marimba)       25 Augustus.

 Kaartjies moet vroegtydig aanlyn bespreek word by Quicket en kos R350 per persoon. Toegang sluit die musiekvermaak, ’n glas tradisionele Glühwein wanneer jy arriveer en die hartlike kaasfondue-maaltyd (met brood en groente) in. Neem kennis dat alle voorgeregte, vleise en nageregte jou ekstra sal kos indien jy dit wil bestel. Wyn is per glas of per bottel beskikbaar. Elke middagete vertoning duur van 12:00 tot 15:00.