Enige wyn sou graag ‘n port wees – as hy maar net kon
Winter is daardie tyd van die jaar wanneer mense se sosiale lewens in ’n soort ni*e-amptelike hibernasie gaan en hulle Jan Tuisbly se karretjie ry, hul vaardighede in die kombuis ontwikkel en die aande deurbring voor knetterende kaggelvure en onder komberse terwyl daar aan heerlike drankies geteug word.
Oor die afgelope dekade het portwyne nie net in hul veelsydigheid ontwikkel nie, maar ook wat betref die uitbreiding van hul tradisionele style, soos die Cape Vintage van De Krans wat in ’n lieflike en unieke dessertwyn genaamd Espresso omgeskep is.
Dis byna tien jaar sedert die Europese Unie besluit het dat geen portstyl wyn wat ná Januarie 2012 buite Portugal gebottel word, die naam “port” op die etiket mag dra nie. Omdat daar verskillende style van portwyn bestaan, dra alle portstylwyne uit Suid-Afrika die woord “Cape” voor die styl, soos byvoorbeeld Cape Ruby en Cape Vintage.
Ondanks al die vernuwings en veranderings wat portstyl wyne ondergaan het, bestaan daar steeds ’n duidelike en gerieflike plek vir die tradisionele style en die wyse waarop hulle geniet word. Vir diegene wat redelik onbekend met portwyne is of wat belang stel om meer oor hulle te leer en met hulle te eksperimenteer, is dit belangrik om die verskil tussen ’n gewone wyn en ’n portstyl wyn te verstaan.
“Port” is ’n wynstyl wat as gefortifiseerde dessertwyn geklassifiseer word. Dit het meer suiker en alkohol as gewone wyn. Dit word bereik deur die gistingsproses halfpad te stop en onverouderde brandewynspiritus by te voeg (wat die alkoholinhoud verhoog en die gisting stop). De Krans Wines is bekend daarvoor dat hulle portwyne skep in ’n effe droër styl as die meeste ander produsente wat hul portstyl wyne ’n meer gesofistikeerde mondgevoel gee.
Wanneer na portstyl wyne gekyk word, en wanneer en waar om hulle te geniet, moet hulle in vier kategorieë verdeel word. Eerstens, portwyne is uitstekend vir kook, en hier dink mens onwillekeurig aan Cape Ruby. Hierdie is een van die tradisionele portwyne en het sy naam te danke aan sy helder robynkleur.
Dis ook ’n nie-oesjaar-portwyn, wat beteken dat komponente van verskillende oesjare versny word om ’n heerlik afgeronde portstyl-wyn te skep. Dis ’n sagte en gestruktureerde portwyn met fluweelsagte tanniene wat die geure van ryp pruim, blou – en rooi bessies, en sweempies kaneelspeserye en viooltjies komplementeer. Voeg gerus genoeg Premium Cape Ruby by jou potjiekos of enige vleisgereg in ’n prutpot, en moenie vergeet om vir jouself ’n glasie te skink nie. Die vleisgereg sal ’n heel nuwe dimensie aanneem. Maar moenie vergeet om te eksperimenteer nie.
Ander inspirasies uit die De Krans-“spyskaart” sluit in die Cape Pink-heuning-geglaseerde varktjops, bedien met mosterd-kapokaartappels, die Cape Vintage-geglaseerde beesstert, bedien met rys en die Cape Tawny-pekanneuttert.
Tweedens, en waarskynlik die mees algemene en tradisionele manier om portwyn te waardeer, is om dit eenvoudig te geniet, op sy eie of saam met nagereg of kaas. Die De Krans Cape Vintage is die ideale inleiding tot die genot en plesier van portstyl-wyne. Dit span ook uitstekend saam met gebakte nagereg soos sjokolade-fondant, donker sjokolade of goed verouderde kase om ’n fees vir die mond te skep.
Dit het ’n diep persrooi kleur, ’n aanduiding van sy intense, vol en ryk smaak van rooi vrugte, gedroogde pruimedante, kakao en speserye. Die tanniene is meer prominent by hierdie portwyn wat gemaak word om in die bottel te verouder. Dit kan egter ook “jonk” geniet word. Die Cape Vintage kan sowat 20 jaar in die bottel verouder op voorwaarde dit word korrek geberg. Dis ’n uitmuntende portwyn wat puik gehalte en waarde vir geld bied.
’n Ander styl wat puik op sy eie werk, of as kosmaat, is die Cape Tawny, nog ’n tradisionele styl. Hierdie portwyn word vernoem na die geelbruin kleur wat dit verkry vanweë die baie jare wat dit in houtvate deurbring. Die De Krans Cape Tawny Limited Release het gemiddeld agt jaar in houtvate deurgebring. As gevolg van hierdie ouderdom en stadige oksidasie is die tanniene sag en het die vrugtegeure ontwikkel in neutagtige, toffie-agtige en karamelagtige geure. Die Cape Tawny is ’n uitstekende alternatief vir sjerrie en is op sy beste effe verkil om die struktuur effe te lig. Dit pas puik by gebakte winterpoedings soos malvapoeding, crème brûlée en gebakte kaas met heuning, neute en roosmaryn daaroor.
Die derde styl is die spreekwoordelike kersie op die koek. Die Cape Vintage Reserve is die “crème de la crème” van portstyl wyne en daarom duurder as byvoorbeeld die Cape Vintage. Hierdie portwyn is die ideale geskenk vir spesiale geleenthede en spesiale mense, en kan meer as 40 jaar in die bottel verouder indien korrek geberg. Soos die Cape Vintage word dit gemaak van ’n enkele oesjaar se opbrengs, maar net die heel beste druiwe word gebruik, en daarna word weer net die heel beste vate ingespan om hierdie keldertrots te skep.
Hierdie portwyn het ’n aromatiese “neus” vol ryp bessies en kersies, gestoofde pruimedante en donker sjokolade. Dit het ’n donker, byna swart kleur met ’n pruimrooi rand. Hierdie spogwyn van De Krans het reeds talle Platter-vyfstergraderings, dubbelgoue medaljes by Veritas en ander toekennings en lofbetuigings oor die afgelope 20 jaar ingepalm.
Ten slotte, portwyne het ook hul regmatige plek ingeneem as heerlike en innoverende mengeldrankies. De Krans het in 2008 die eerste Cape Pink in Suid-Afrika bekend gestel, en hierdie nuwe styl het onmiddellik soos ’n veldbrand versprei. Soos die naam aandui, is dit pienk in kleur, wat teweeg gebring word deur die sap vroeg in die produksieproses van die doppe te verwyder. Dit is droeër in styl as ander portwyne, asook effe laer in alkohol (sowat 16%), en bied vars bessiegeure en geure van spookasem en blomme. Die Cape Pink is uitstekend op sy eie, maar werk puik saam met gemmerbier en kruisementblare, of meng dit met gemmerbier, bitterwyn (“bitters”) en ’n skeut jenewer. Die opsies hier is byna eindeloos en daar’s eintlik geen verkeerde antwoord nie. Eksperimenteer en vind die mengeldrankie wat jou toonnaels laat omkrul van pure lekker!
Nog ’n goeie voorbeeld van ’n genotvolle skemerdrankie is die De Krans Espresso Martini. Terwyl De Krans se Original Espresso streng gesproke nie erken word as ’n portwyn nie, word dit van twee Portugese kultivars gemaak, naamlik tinta barocca en touriga nacional. Dit tel onder De Krans se dessertwyne en het geure van koffie, sjokolade en speserye danksy die swaar geroosterde eikehoutvate waarin dit tyd deurgebring het. Benewens die Cape Pink en Original Espresso, werk die Cape Ruby ook goed as ’n skemerkelkie met die byvoeging van ’n bietjie kinawater (“tonic water”).