Wynbedryf beur voort ondanks uitdagings
Hoewel die Suid-Afrikaanse wynbedryf nog ʼn geruime tyd gaan neem om ten volle van die nagevolge van Covid-19 handelsbeperkings te herstel, beur wyndruifprodusente voort deur hulself met die nuutste inligting en kundigheid toe te rus en voortdurend hul benadering in die wingerd aan te pas.
Hierdie was van die insigte wat tydens Winetech en Vinpro se vyf streekswebinare van 3 September tot 8 Oktober 2020 gedeel is. Meer as 160 persone het die aanlyn sessies in totaal bygewoon.
Covid-19: waarheen nou?
Die Covid-19 pandemie het ʼn verreikende effek op wynproduserende lande van regoor die wêreld gehad, en Suid-Afrika is geen uitsondering nie.
Buiten die finansiële effek wat wisselende beperkings op Suid-Afrikaanse drankverkope plaaslik en oorsee sedert Maart vanjaar gehad het, het dit saam met ʼn afname in verkope na die einde van 2019 toe, tot ʼn oorskot van sowat 290 miljoen liter ongekontrakteerde wyn aanleiding gegee.
Volgens Yvette van der Merwe van SAWIS (Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -Stelsels), is dit onafwendbaar dat hierdie ooraanbod ʼn negatiewe effek op wynpryse sal hê. “Die bedryf werk egter tans aan verskeie oplossings om die voorraadvlakke te verminder en wynpryse behoort weer in die volgende paar jaar te styg,” sê sy.
Van hierdie planne sluit in om die vraag na Suid-Afrikaanse wyne plaaslik en internasionaal te stimuleer en die vervaardiging van handreinigers van die huidige voorraad en langtermynkontraktering van druiwe vanaf die 2021-oes vorentoe vir die maak van druiwesapkonsentraat.
Met die parsseisoen wat middel Januarie afskop, is kelders en wyndruifprodusente nou besig om addisionele stoorplek te bekom of wingerde af te bestuur vir ʼn kleiner 2021-wyndruifoes om druk op kelderkapasiteit te verlaag.
Albert Strever van Universiteit Stellenbosch stel voor dat wyndruifprodusente die voor- en nadele van praktyke soos die parkering (“mothballing”) van wingerde deur minimale praktyke en insette, chemiese oesbeheer, die identifisering en afsaag of uitkap van nie-winsgewende wingerdblokke en sluit van sapkontrakte deeglik opweeg. Hoër wyngehalte sal ook na verwagting beter vaar in terme van verkope en prys; pas die wingerdbestuurstrategie daarby aan.
Nuwe planne met stokkies en siekte- en plaagbeheer
Ondanks die finansiële uitdagings plant heelwat wyndruifprodusente steeds nuwe wingerde aan. Tydens ʼn studietoer na Italië en Duitsland aan die begin van vanjaar het Conrad Schutte van Vinpro sogenaamde “jumbo”-wingerdstokkies teëgekom, waarvan die onderstok baie langer as ʼn tradisionele onderstok is. Die stokkie, wat ideaal as inboetstok kan dien, pas reeds tot by die kordondraad wanneer dit geplant word en vergemaklik onkruidbeheer aansienlik.
“Tydens die wingerdtegniese skoue wat ek bygewoon het, was daar ʼn groot fokus weg van onkruiddoders, met heelwat toerusting gemik op meganiese onkruidbeheer. Die teling van kultivars met gedeeltelike weerstandbiedendheid teen donsskimmel en witroes geniet ook baie aandag in Italië,” sê Conrad.
Die dreigende verbod deur die Europese Unie (EU) op die gebruik van swamdoders wat Mancozeb bevat, gaan wyndruifprodusente noop om hul swambeheerprogramme hierby aan te pas. Volgens Dirk van Eeden van InteliGro beskik die bedryf oor voldoende chemiegroepe om donsskimmel effektief te bestry, selfs in hoëdruksituasies. Meeste van hierdie produkte is egter duurder as die Mancozeb-produkte en ’n goeie strategie moet gevolg word om weerstandbiedendheid te voorkom.
“Die geheim tot ʼn suksesvolle witroes- en donsskimmelspuitprogram lê in voorkoming eerder as bestryding. Begin vroeg en hou by die voorgeskrewe program al word geen simptome waargeneem nie,” sê Pieter le Roux van Villa Crop. Hy maan produsente dat wyne moontlik vanaf die 2021-oesjaar getoets kan word vir Mancozeb en raai aan dat hulle die etikette van al die middels wat hulle gebruik noukeurig nagaan om te verseker dat die Mancozeb-vlakke nie te hoog is nie. Navorsing het ook bewys dat geen Mancozeb-reste in bereide wyne voorkom indien die middel tot en met die ertjiekorrelfase toegedien is nie.
Deur effektiewe bestuur van stamsiektes kan produsente swak bot of die afsterwe van draers verhoed. Dr Francois Halleen van die Landbounavorsingsraad (LNR) stel voor dat die arms nie te styf om die kordondraad gedraai word sodat dit in die drade insny nie. “Verwyder ook alle hakies, toutjies en ander items wat arms kan wurg, en verhoed enige groot snoeiwonde naby die kordon. Indien groot wonde gemaak moet word, beskerm die wond met ʼn wondseelmiddel,” sê hy.
ʼn Nuwe vlagskipprojek deur Winetech, die Suid-Afrikaanse Wingerdteelprogram, kyk ook na die teling van druifsoorte wat weerstand teen sekere siektes en plae bied, namate wynverbruikers toenemend vereis dat wingerde met minimale chemiese insette bestuur word. Volgens Dr Justin Lashbrooke van Universiteit Stellenbosch, stel nuwe DNA-merkertegnologie navorsers in staat om die teelproses te bespoedig, wat ʼn nuwe dimensie tot tradisionele teelprogramme gee.
Wingerdteling bly egter steeds ʼn tydsame proses en dit neem etlike jare vir ʼn suksesvolle druifsoort om die mark te bereik wat beide weerstandig is teen siektes én goeie gehalte bied, sê Phyllis Burger van die LNR.
Spreek klimaatsverandering aan
Hoewel die Wes-Kaap vanjaar goeie winterreëns ontvang het, is klimaatsverandering hier om te bly. In antwoord hierop fokus die wynbedryf onder andere op goeie waterbestuur en die teel en aanplant van alternatiewe druifsoorte en -klone.
“Deur jou besproeiingstelsels gereeld te onderhou, kan jy waterdoeltreffendheid aansienlik verhoog,” sê Abie Vorster van Netafim. Deeglike onderhoud behels die spoel van die stelsel en behandeling met suur en peroksiede na gelang van die mate van blokkasie. Wanneer peroksiede gebruik word, voorsien vir ʼn wagperiode van tot 36 uur vir die mees effektiewe werking en volg dit op met ʼn spoel-aksie.
Volgens Charles Visser van Vititec is daar sedert 2007 altesaam 67 nuwe klone en 15 druifsoorte aan Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente beskikbaar gestel. “Nuwe invoere fokus tans op druifsoorte wat hul man teen klimaatsverandering kan staan, spesifiek uit Mediterreense streke soos Spanje, die suide van Frankryk en Griekeland. Dié druifsoorte word deurgaans gemonitor en eksperimentele wyne word berei en ontleed om produsente van die beste moontlike inligting te voorsien,” sê hy.
Konstantinos Bakasietas van die VNB & Hellinefera in Griekeland sê omvattende proewe is reeds gedoen om te bewys dat Griekse druifsoorte soos Assyrtiko, Xinomavro, Limniona en Agiorgitiko tradisionele druifsoorte uitstof as dit kom by aanpasbaarheid teen droogte en hoë temperature.
“Produsente kan daarby baat vind om eksperimenteringsprogramme op klein skaal op hul plase te implementeer,” sê Eben Sadie van Sadie Familiewyne. Dit stel hulle in staat om eerstehands te sien wat werk en ook makliker die sprong maak van ʼn generiese produk na ʼn premieproduk deur ʼn druifsoort aan te plant wat moontlik beter by die omgewing aanpas.
“Vir Winetech is dit belangrik om navorsing te befonds wat tot voordeel van die bedryf is,” sê Lucinda Heyns van Winetech. “Ons befonds ook die streeksinligtingsdae en -webinare as ʼn belangrike platform om die resultate van hierdie navorsing met die bedryf te deel, sodat hulle dit kan toepas en tot hul eie en die bedryf se langtermynvolhoubaarheid kan bydra. Ons verwelkom enige voorstelle vir verdere navorsing vanuit die bedryf.”